Silver Lepel

Ek kan onthou as kind het ek altyd in die trollie gesit of langs my ma gestap terwyl sy die maandelikse inkopies gedoen het in die Hipermark sommer om die draai van ons. Die beste deel van daardie inkopietogte was dat sy altyd vir ons die pak lekkers gekoop het. Die goue reël was ek en my ousus elkeen twee lekkers kon kry net na aandete, en nie voor dit nie, nie eens met middagete nie. Maar na aandete. Ek kan ook onthou hoe ek elke keer my kanse afgewaag het in die winkels om net ‘n Bar-One sjokolade te kry, maar met my Ma se waarskuwing-kyke het ek geweet dat ek nie ver sal kom nie, nie eens met ‘n vloermoer of twee in die lang lyne waar my Ma vir die inkopies moes betaal nie.

Die rede hoekom ek hierdie kinderdae herinnering opbring en dit sit op hierdie inskrywing is die feit dat Thomas nogsteeds in my gedagtes woed. Vir diè wat nie weet wie presies Thomas is nie, laat ek julle ‘n bietjie oor hom vertel. Thomas is nie my kêrel nie. Hy is nie ‘n vriend van my uit my kinderdae nie. Hy is nie ‘n kennis van my nie en laastens is Thomas geensins familie van my nie. En dankie tog daarvoor.

Thomas is ‘n student van Johannesburg wat sy eie ma, Louwna, dagvaar vir onderhoud. Hy dagvaar haar ondermeer vir klasgelde, sakgeld en ‘n bietjie ekstra vir ontspanningsaktiwiteite wat altesame R14 655 per maand kos om en by. Wel, dit is hoeveel Thomas wil hê om gemaksugtig te lewe sonder om eintlik daarvoor te werk.
Ek het hierdie artikel gelees wat op News24 se webblad verskyn en gedink dat Thomas een ondankbare skepsel is. En vandag dink ek hy is nogsteeds. Daar het ook daardie gedagte by my opgekom dat as ek my ouers moes dagvaar vir onderhoud, was ‘n silver lepel gouer vervang met ‘n houtlepel as wat Usain Bolt oor die wenstreep sou hardloop.Want die lewe werk so. Jy werk vir die dinge wat jy wil hê.

Jy werk jou agterent af om huur te betaal, jou kar af te betaal, die maandelikse rekeninge te betaal en te sorg vir die basiese benodighede. Dit is mos basiese logika van die lewe wat geen volwassene kan omseil nie.

My ouers het baie opgeoffer toe ek ‘n kind was. Hulle het baie opgeoffer om my deur skool te kry, om my deur kollege te kry, my te beskerm teen gevare van die lewe en kos op die tafel te sit. My ouers het vir my net die beste gegee wat enige kind voor kon vra en ek is elke dag dankbaar daarvoor. Ek kan onthou hoe hulle my versorg het na my operasie hierdie jaar en glo my, ek is dankbaar daarvoor vir hul bystand, sorg en liefde.

Ek was nie met ‘n silver lepel in die mond gebore nie en ek het nie daarmee grootgeword nie. Ek was baie gelukkig om net ‘n kind te kon wees wat buite in die sand en gras te kon speel en rond te hardloop, sorgvry en gelukkig. My ouers het my aangemoedig en ondersteun tydens my hoërskool jare en ek kon nie sonder hulle in daardie jare van groeipyne nie. My ouers het my net daardie skop in die rigting gegee om te werk vir die dinge wat ek wil hê en my aangemoedig om nie op te gee nie. Dinge het nie verniet na my toe gekom nie. Dinge kom nogsteeds nie vandag verniet in my rigting nie. Ek moet werk en damn hard ook om dinge te hê wat ek wil hê.

Thomas is uit my oogpunt uit ondankbaar en besef nie watter opofferinge sy Ma moes maak nie om die lewe te gee wat enige kind kon van droom. Die lewe waar hy kan universiteit toe kan gaan en die droom loopbaan te hê waarop elke ouer sou trots wees. Dit is al wat dit behels om te sê. Thomas is ondankbaar en in ‘n groot skaal ‘n bedorwe brokkie. Thomas sal ook eendag hard neerbliksem wanneer die geldtrein vir hom wegry en besef dat hy moet werk om homself te onderhou.

So Thomas. Veronderstel jy kry nou ‘n werk en daardie salaris is nou R14 655.00 op die kop. Jy moet huur betaal vir jou huis of woonstel, water en elektrisiteit betaal, jou kar afbetaal, en moenie vergeet van die basiese benodighede nie. Jy weet, die dinge wat elke liewe grootmens doen om aan die lewe te bly. Jou ma weier om jou verder finansieël uit te help want jy is mos nou standvastig. Wat gaan jy dan doen? ‘n Prokureur nader trek met die hoop dat nog ‘n geldtrein in jou rigting kom en jou uithelp met ‘n bydrae of twee om jou gemaksugtigheid aan te help?

Die lewe werk nie so nie. Jy moet op jou eie twee voete staan, in jou eie potjie krap en jouself van punt A tot punt B kry. Die lewe is hard. Glo my vry, jy is maar net ‘n student. Jy gaan op ‘n baie harde manier uitvind presies watter bitch die lewe is.

Maar die lewe skuld jou absoluut niks nie. Nie eens R14 655.00 onderhoudsgeld nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s