Swart Vrydag

Hierdie week het baie swaar op my gemoed gelê. Ek het so baie emosies ervar in een week wat my emosioneel uitgeput het op die ou einde. Die nuus van vroue wat vermoor word in so ‘n kort tyd het my meer ontstel as wat ek gedink het dit sou. Die feit dat ‘n onskuldige dogtertjie net buite haar skool ontvoer is, het my so bekommerd gelos want sulke insidente het altyd ‘n tragiese nagevolg. Die nuus van ‘n jong student met soveel potensiaal wat in ‘n poskantoor verkrag en vermoor is, het swaar op my gemoed gelê.

Die nuus van vroue en kinders se trauma en swaarkry het my hierdie week oorweldig. Die feit dat soveel vroue opgestaan het teen geslags gegronde geweld het ‘n riem onder my hart gelos. Ek het so baie emosies ervaar in so ‘n kort tyd. Ek was oorweldig. Ek was moeg. Ek was woedend. Ek was gefrustreerd. Ek was magteloos…

Vroue en kinders word vermoor byna elke dag in Suid-Afrika. Dit is nie lekker om hierdie hartseer nuus in die media te lees nie, maar ongelukkig is dit die realiteit waarmee elke Suid-Afrikaner moet saamleef op die ou einde want die regering doen basies niks om die probleem op te los nie. Vroue, mans en skool studente het opgestaan teen hierdie probleem want ons almal wil deel wees van hierdie oplossing. Ek inkluis.

Ons almal het op Vrydag swart gedra. Ek en my kollegas het swart gedra uit protes uit teen die probleem van geslags gegronde geweld. Uit protes uit het ek en my kollega fotos geneem met boodskappe daarop om te sê dat genoeg nou genoeg is. Suid-Afrika het swart gedra want ons almal was in rou gewees.

‘n Paar weke gelede, ‘n dag na Vrouedag het my suster en my niggie kom kuier. Dit was ‘n baie aangename kuier gewees. My niggie is my hart se punt wat sorgvry en onskuldig deur die huis en buitekant gehardloop het. En gelag het. Tyd saam met haar was baie kosbaar gewees en ek is dankbaar daarvoor. Elke dag.

Want sestien jaar gelede was ek so byna daardie geleentheid beroof toe ek aangehou was in my ouerhuis deur ‘n inbreker. My lewe was bedreig gewees. Hy het ‘n mes op hom gehad en my gedreig om my dood te maak sou ek polisie toe gaan. My enigste genade was deur dit als was dat hierdie inbreker onervare was en my Ma net betyds by die huis aangekom het.

Ek dink elke dag daaraan dat dit kon ek gewees het. Ek kon verkrag gewees het. Ek kon vermoor gewees het. Maar ek is hier om my storie te vertel. Ek is hier want ek wil nie meer myself in ‘n situasie bevind waar ek hoef te smeek vir my lewe nie. Daar gaan nie ‘n dag verby waar ek wonder of ek volgende is as ek deur die strate van die middestad van Kaapstad stap oppad werk toe nie. Maar ek hou aan baklei want ek wil my niggie sien grootword. Ek wil haar sien skool toe gaan. Ek wil sien hoe haar drome waar word.

Ek het swart gedra gister want ek wil nie nog ‘n statistiek van moord word nie. Elke vrou en kind is weerloos in Suid-Afrika. Ek is nie uitgesluit nie. Ek het dit gedoen om te baklei vir myself. Ek het dit gedoen om te baklei vir elke slagoffer van geslags gegronde geweld wat nie meer daardie voorreg het om hul familie te sien, vas te hou of om elke dag te sê dat sy lief is vir hulle nie. Ek het dit gedoen omdat ek ‘n tweede kans in die lewe gegun is om op te staan vir slagoffers en op te staan vir myself as vrou.

Ek het dit gedoen om my niggie te sien grootword. Swart Vrydag, soos ek dit doop, was ‘n dag van rou vir elke slagoffer van geslags gegronde geweld. Dit was ook ‘n geleentheid vir ons almal om te sê dat ons almal genoeg gehad het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s