Hier Om Te Bly

Hierdie jaar was net een jaar vol hartseer en nogmaals hartseer. Ek het meer verloor waarop ek kon reken. My gesondheid het wipplank gery met ‘n operasie en maande daarna griep wat vir twee weke aaneen nie my wou los nie. Boonop was ek in ‘n ongeluk gewees wat my kon baie ernstiger laat beseer het en vir my weke lank in die hospitaal laat bly het, en ek haat hospitale. Hierdie jaar wou ek met alle mag en siel afskryf en ek het beloof dat ek alle 2019 kalenders in hierdie huis op 31 Desember verbrand. Want ek was so damn gatvol vir 2019. Ek wou nie meer verloor nie.

Ek was op ‘n manier net kwaad en bitter gewees. Ek was kwaad omdat ek my vriend en twee honde binne ‘n bestek van sewe maande afgestaan het aan die dood. Ek was hartseer oor hul dood. Ek was gefrustreerd omdat omtrent als in hierdie jaar alleen skeef geloop het. Ek het op ‘n tyd gevoel dat als van my af weggeneem was en dat ek besig was om alles te verloor. Dit is hoe ek gevoel het daardie tyd.

Vanjaar is vir my hel, maar ek is nog hier. Ek haal nog asem. Ek besef hoe eintlik gelukkig ek moet wees. Ek troos myself aan die feit dat my twee geliefde honde op ‘n baie beter plek is sonder enige pyn, leiding en hartseer. Elke dag is vir my een uitdaging op die ander. Ek is moeg met ek wat elke aand op die bed lê en sukkel om my arms te lig, dit is hoe moeg ek is deesdae. Hierdie jaar is dreinerend verby, maar ek kap maar aan want ek weet dinge kan dalk vir my net beter gaan eendag.

Daar is dae dat ek net negatief voel oor alles. Daar is dae dat ek so moeg is, ek kruip amper letterlik om by die huis uit te kom. Ek is so moeg wanneer ek wakker word, al waarna ek uitsien is my bed en Showmax, maak nie saak wat wys nie. Of dalk is How to Get Away with Murder op Netflix nie so ‘n slegte idee nie.

Aan die anderkant is daar dae waar daar net ‘n liggie van hoop is. Dat als okay gaan wees op die ou einde. Ek lees al die inskrywings op die #ImStaying facebook groep en dink by myself dat daar nog hoop is in Suid-Afrika. Ek lees ook al die negatiewe opmerkings van een negatiewe suurknol en besef hoe beter ek is daartoe af dat ek somtyds net ‘n positiewe sel in my lyf het.

Want ek het dit nodig gehad om daardie groep se inskrywings te sien en te lees hoe mense mekaar behandel. Vreemde mense van verskillende en uiteenlopende agtergronde in Suid-Afrika wat positiewe dinge met mekaar deel en vir mense hoop gee dat die mensdom dalk nie vol stront is nie. Ek het net daardie hoop nodig gehad om te besef dat dinge in my lewe tog okay gaan wees.

Ek het nodig gehad om die positiewe van die lewe te sien om te besef hoe dankbaar ek moet wees. Ek haal nog asem. Ek het nog my gesondheid. Ek het familie wat baie vir my omgee. Ek het vriende wat vir my omgee ongeag my flaws. Daar is spasie vir groei en hoop vir ‘n baie beter toekoms.

Ten spyte van al die negatiewe dinge wat plaasgevind het in hierdie jaar, glo ek en hoop ek dat daar ‘n beter toekoms voor my lê. Ten spyte dat mense gaan dink dat ek naïef is, gaan ek hulle so laat dink want ek loop nie met oogklappe rond wanneer dit kom by al die negatiewe dinge wat plaasvind in Suid-Afrika nie. En ten spyte wat sekere mense dink van ons land, bly ek lief vir Suid-Afrika en al die mooi dinge wat dit bring.

Ek is vandag eintlik dankbaar vir die lewe wat ek het, al het hierdie jaar nie verloop soos dit het nie. Ek wil in Suid-Afrika bly met die hoop dat ek ‘n verskil kan maak iewers. Ek voel positief dat dinge eendag vir my sal uitwerk. Ek is hoopvol dat dinge in my lewe beter sal verloop. Ek het hoop en geloof en ten spyte van die uitdagings, is dit al wat my aan die gang sal hou.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s