Reputasie

Die fliek, 10 Things I Hate About You, was en is nogsteeds een van my vele gunstelinge om te kyk wanneer die lewe druk of net te hard is op my. Of wanneer is lus is om net weer lekker te lag na ‘n moeilike dag. Dit is een van daardie flieks, uit my oogpunt, wat nooit oud sal word nie.

Vir diè wat na die jaar 2000 gebore is, die storie is oor twee susters, Cat en Bianca Stratford, wat saam met hul oor-beskermende Pa bly nadat hul ma hulle verlaat het toe hulle jonger was. Die pa se reëls is dat hulle nie kêrels mag hê totdat hulle oud genoeg is nie. Die pa verander die reël dat Bianca mag uitgaan met seuns, mits Cat ‘n kêrel kry.

Ongelukkig vir Bianca het Cat ‘n reputasie gekry as iemand wat eerder ongewild en alleen wil wees. Sy wat Cat is, het net siek geraak daarvan om gewild te wees en mense se verwagtinge na te streef om iemand te wees wat sy nie wil wees nie, iemand soos haar eie suster natuurlik. Bianca is een van die gewildste studente in hul skool en die seuns staan tou om haar uit te neem.

Cat gee nie om wat mense van haar dink nie of hoeveel mense sy affekteer met haar optrede en aksies nie. Sy wil net basies haarself wees. Iemand wat hou van Indie musiek, boeke en nie uitgaan na partytjies nie.

Met genade was ek nie populêr toe ek op skool was nie. Nie eens naastenby nie. Ek was, om baie destydse leerlingraad nie omdat my gebrek aan leierskap my in die steek gelaat het, en in daardie tyd was ek verlig dit het. Ek was ‘n skaam en teruggetrokke tiener gewees met vriende wat van my gehou het nes ek is.

Ek was ‘n bol senuwees toe ek voor ‘n klaskamer vol kinders mondeling moes doen en ek het nie met einde van elke skoolkwartaal bo-aan die lys van die akademiese studente geboer nie, maar ek het okay vir myself gedoen.

Dit is die soort mens wat ek was tydens my tienerjare vol groeipyne en uitdagings. Ek was iemand wat eerder haar neus in ‘n Sweet Valley High boek gehad het as om dinge te doen wat tieners normaalweg doen en dit is om in Malls uit te hang op soeke na daardie Levi Jean by Mr. Price. Ek sou eerder wonder wat Joey en Pacey als doen in Dawson’s Creek as om na partytjies en danse te gaan. Ek was ‘n introvert en is nogsteeds vandag as ek verkies om Grey’s Anatomy op ‘n Saterdagaand te kyk of my neus in ‘n boek te hê tydens beurtkrag.

Niemand het daardie feite van my lewe geken totdat ek dit sopas genoem het nie. Mense sê altyd jy is wat jy sê, jy is met die woorde wat jy spreek teenoor ander, jy is wat jy eet, jy is met die klere wat jy aan jou lyf het. En die belangrikste van dit als, jy is hoe jy optree teenoor mense.

Volgens mense is jy dit of jy is dat. Jy is sis of jy is so. Jy is ‘n sprankelende straal van sonskyn, of ‘n vars briesie. Of jy is ‘n bliksemstraal sekondes voor die donderweer. Jy dra die mooiste rokke of stylvolle broekpakke. Of jy kan iemand wees wat kort broeke dra met spaghetti-strap toppies wat jy by Pick ‘n Pay clothing vir ‘n spesiale afslag gekry het. Jy eet gesond en weeg jouself elke naweek om te hoop dat daardie uitsonderlike dieët wat jy in die nuutste uitgawe van Cosmopolitan gesien het, werk of jy is so lus vir daardie kaasburger by Burger King met ‘n groot koppie Coke daarby ook. Of as jy nou soos ek is, lus is vir ‘n Amerikaanse donut met ‘n beker Jacobs koffie met creamer na ‘n parkrun of twee.

Nog iets wat ek nie genoem het nie. Ek is mal oor Jacobs koffie, of enige ander koffie as ek opgewerk voel as die Stormers of Proteas nonsens op die veld maak. Baie mense sal nou aanneem dat ek ‘n suikertand het wat byna elke dag iets soets sal eet. Mense doen dit wel. Die waarheid is dat ek nie myself elke dag siek sal eet aan ‘n slab Cadbury sjokolade nie. Ek bederf eerder myself oor naweke met dit. Ek sal my slaappatrone nog verder bederf as ek elke dag teveel suiker inkry, en slaap is iets wat soms skaars is by my.

Ek het ‘n reputasie by mense wat dinge nie sal insien soos hulle dit insien nie. En ongelukkig is dit meestal polities gesproke, wat ‘n onderwerp is wat ek so vêr as moontlik probeer vermy. Ongelukkig vir daardie mense ken hulle my nie eintlik baie goed genoeg om daardie soort reputasie vooruit te laat loop in die eerste plek nie.

Daar sal ook somtyds, maar darem nie gereeld genoeg nie, ‘n skermgreep van my tweets op sosiale media verskyn en my verduidelikings verkeerdelik sal opneem as kinderagtig, en dit terwyl ek bloot net opgestaan het vir myself juis omdat daar ‘n heeltemal verkeerde aanname gemaak was van my in die eerste plek.

Mense vorm menings van jou en laat ‘n reputasie van jou vooruit net omdat hulle jou aan die uiterlike sien. Hulle som jou op as gaaf of gemeen, maar weet hulle werklik wat binne-in jou aangaan. Hulle sal so vêr gaan om stories oor jou op te maak of woorde te verdraai om hulle te pas, sonder om seker te maak van hul feite.

Sekere dinge van die lewe kry my onder en bring die slegte kant van my uit. Soos met die een aand waar ek baie laat by die huis aangekom het na ‘n lang dag by die werk en my frustrasies op sosiale media uitgehaal het. Dit kom nadat ek vir twee en ‘n half uur in die verkeer vasgesit het. Die waarheid was dat ek moeg was nadat ek drie mense se werk moes doen. Niemand sal vra hoekom ek so afgehaal voel nie. Hulle sal my net opsom as gemeen sonder dat hulle my werklik ken.

Dit kom neer daarop dat mense nie hulself moet bekommer oor hul reputasie nie, maar eerder oor hul karakter. Want ‘n reputasie is wie mense dink jy is, en jou karakter is wie jy werklik is. Ek gee meeste van die tyd nie juis om wat mense van my dink nie, veral as ek met doodgewone klere en tekkies deur Kaapstadse middestad stap met ‘n rugsak op my rug nie.

Mense sal dink ek is ‘n student, maar nie my werklik ken nie. Ek is iemand in baie mense se oë. Hulle ken my storie, my agtergrond, my hele geskiedenis. Vir die hele paar duisend wat in Kaapstad werk is ek maar net nog ‘n iemand wat oppad werk toe is, of dalk oppad college toe is besig om ‘n rekenaar kursus te volg.

In die bus wat ek elke oggend en aand neem, is ek maar net nog ‘n iemand wat haar neus in ‘n boek het, na Paramore se Riot Act of Karen Zoid se Chasing the Sun terwyl ek lees oor hoe Carina Human besig is om Jacques Reinhard te soek in Ballade vir ‘n Enkeling.

Ek het met daardie mense in die stad of in die bus nie ‘n reputasie wat reg of lelik skeef kan trek nie. Ek is maar net nog ‘n iemand wat werk om vir myself te sorg. As ek daar is, weet niemand enige iets van my af nie. Ek is nie populêr of gewild in daardie mense se oë nie, of ek is nie ‘n uitstaande persoon in hul oë nie. Ek is iemand soos Cat Stratford wat sonder enige verwagtinge leef.

Want ‘n reputasie beteken meeste van die tyd absoluut niks. Jou karakter wys wie jy werklik is in die lewe en wie jy wil wees.

quote20200207184540

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s