Politiek

Ek het vir ‘n redelike tydjie gewik en geweeg of ek hierdie inskrywing moet doen vir ‘n paar redes. Vir ‘n hele paar weke al om baie eerlik te wees want ek is nie iemand wat so maklik oor hierdie onderwerp sal skryf mits dit beteken dat daar my kop vir my gewas gaan word op sosiale media oor sekere uitlatings nie, of daar mag dalk net ‘n skermgreep of twee of drie van my stellings of opinies op iemand anders se tydlyn verskyn, terwyl die persoon dit heeltemal misverstaan het.

Mag dit vandag, 15 Februarie 2020 en een dag voor my 38ste verjaarsdag, die eerste keer wees dat ek hieroor sal skryf met daardie kleine bietjie hoop binne-in my dat niemand op my kop sal bollie nie en dat niemand skermgrepe hiervan sal neem nie. Hierdie onderwerp was soortvan ook aangevuur deur Donderdagaand se “Staatsrede” waar ek nie hoef te beskryf wat gebeur het nie, want almal weet. Of moet ek dit verwys as ‘n sirkus?

Vandag het ek so ‘n bietjie deur memory lane op Facebook gegaan en gesien dat dit vandag presies twee jaar is dat Suid-Afrika wakker geword het met die nuus dat Jacob Zuma as president van ons land bedank het. Suid-Afrika het homself in ‘n onsekere situasie en toekoms bevind, maar dit was ook ‘n begin van nuwe dinge gewees. Vir my was dit ‘n tydperk van onsekerheid. Niemand in ons pragtige land het eintlik geweet wat op ons wag nie. Cyril Ramaphosa, Suid-Afrika se huidige leier, het op my 36ste verjaarsdag, sy heel eerste Staatsrede in die Parlement gelewer. Suid-Afrika was in afwagting daarvoor, maar ek was nog ‘n bietjie baie onseker oor die toekoms van ons land.

Ek kyk terug na Februarie 2015. Ek onthou hoe chaos dinge was voor die Opening van Parlement en Jacob Zuma se staatsrede toe ondersteuners van die ANC, die EFF en die DA mekaar aangevat het en ek en twee van my kollegas vasgevang was daarin met polisie en waterkanonne tussen ons. Dinge het nie veel beter gegaan met die eintlike staatsrede nie met die EFF, die DA en COPE wat die Huis van die Parlement verlaat het voordat Zuma ordentlik kon begin.

Gaan terug in Mei 2014. Ek het vir die heel eerste keer in my leeftyd op 32-jarige ouderdom gestem in die algemene verkiesing. Ek het my redes oor hoekom ek eers 14 jaar later besluit het om my kruisies te maak. Een van daardie redes was dat ek baie negatief was oor ons land. Ek het ook gevoel dat nie als oor politiek gegaan het nie en dat daar meer was tot net dit. My lewe het nie gewentel oor wat Zuma als kwytgeraak het nie. Of wat Helen Zille als op Twitter laat blyk het nie. Of erger, watter vloermoere Malema gegooi het nie.

Gaan vyf jaar vorentoe in 2019. Ek het weer my kruisies gemaak in die Algemene Verkiesing, in ‘n tyd waar als so ‘n warboel was in ons land. Met beurtkrag, korrupsie, hoë misdaadsyfers en ‘n uiterse swak ekonomie het my eintlik laat dink hoeveel keer moet ek oor my skouer loer elke dag en hoeveel korrels Jacobs koffie ek in my beker mag toelaat?

Een jaar later en al die dinge is nog presies dieselfde. Cyril Ramaphosa is nogsteeds ons president, name soos Judas word toegesnou van een voormalige leier na een huidige leier, en Malema en sy maatjies wat een helse vloermoer gooi en ‘n uur en ‘n half later weer uitgegooi was met die Staatsrede Donderdagaand. Ons almal weet dit. Suid-Afrika het na hul selfone gegryp en hul menings daaroor gelig. Dit sal teen volgende week baie ou nuus wees.

Sal ek my naam en my karakter nou op die spel plaas om iets oor die hele situasie sê op sosiale media? Wel, Donderdagaand was erg vir my gewees. Ek was eers ‘n uur later uit die stad uit oppad huistoe weens soldate wat genadiglik nie Suid-Afrika se naam met ‘n plank geslaan nie, nie soos sekere lede van die polisie tydens ‘n begrafnis nie. Die strate was toe in en om die stad wat my behoorlik moeg en moedeloos laat voel het. Nog om alles te kroon was die M3 gesluit en alle voertuie was gelei op die pad waar ek was, wat my nog verder vertraag het om by die huis te kom en my verder die moer in gemaak het as wat ek al klaar was. My stelling oor die hele staatsrede nadat Malema en kie hul speelgoed rondgegooi het? Op facebook het dit ‘n bietjie soos dit geklink: Ek het later by die huis aangekom vanaand en dit vir hierdie sirkus. Go figure!

Dit was ‘n rare ooblik by my om my stellings te maak wat polities van aard is. Gewoonlik deins ek weg en doen dit glad nie. Daardie oomblik het uit ‘n plek van pure uitputting en frustrasie gekom. Ek het al geleer dat sosiale media en politiek meng glad nie so lekker nie. Vra vir Julius, vra vir Steve, vra selfs vir Donald Trump wat soms vergeet om sy CAPS lock af te sit wanneer hy besig is om sy eie ego aan te blaas op Twitter.

Daar is eenvoudiglik net dae wanneer daar tweets of Facebook inskrywings van politieke figure of aktiviste verskyn wat my laat dink: “rêrig nou?”. Moes hy of sy daardie onnodige stelling maak of moet alles in die lewe oor politiek gaan. Mense soos Steve en Julius wat ‘n wig tussen Suid-Afrikaners probeer dryf met hul politiese “korrekte” stellings. Ek wonder wat het geword van samesyn en vrede sodra politiek inkom in ‘n gesprek in. Dit is moontlik wanneer groot, opgeblaaste egos eenkant toe gesit word.

Daar is groot probleme en uitdagings in Suid-Afrika. Ek is lief vir my land en sy mense, maar ek is beslis nie naïef om te sien wat besig is om te gebeur nie. As dit nie ‘n swak ekonomie is nie, dan is dit ‘n “sieklike” Zuma wat veronderstel was om by ‘n kommissie of twee of drie te wees, maar dit gemis het.

As Eskom die liggies aanhou vir langer as ‘n maand, is dit ongelooflik baie lank vir ons en hulle en kan beskou word as ‘n baie groot wonderwerk, maar ongelukkig bestaan wonderwerke nie wanneer dit by Eskom kom nie. Eskom is nogsteeds soek na daardie verlore eenhede wat Fase 3 beurtkrag veroorsaak het. Of sukkel hulle met nat steenkool? Wat van daardie gebreekte vervoerband wat aanhou breek en Fase 6 beurtkrag veroorsaak? Sulke flou verskonings sal natuurlik elke liewe Suid-Afrikaner die dondeweer in maak en rugby ondersteuners laat vloek van frustrasie omdat hulle gemis het hoe die Stormers die Leeus in die laaste minuut vanmiddag geklop het? Beurtkrag is omtrent die enigste tyd wanneer ek in drie verskillende tale kan vloek wanneer ek na my flitslig soek in pik hel donkerte.

As die Suid-Afrikaanse Lugdienste meer as tien vliegtuie in die lig het, is dit ook ‘n wonderwerk. Dit bly baie hartseer dat die eens beste wêreldklas lugredery reg onder in die pit is en nog verder agteruit gaan as wat dit al klaar is.

As Jacobs koffie R49.95 by groot kettingwinkel groepe is, sal ek maklik vyf flesse daarvan koop. Of as Sasko brood en Clover melk net goedkoper kan wees as ‘n klein ou pakkie OMO waspoeier kan Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn lewe, ook ordentlik kan slaap met vol magies en die wete dat hul kinders gevoed is.

En as selfoon netwerke se damn data-pryse net verminder kan word met die helfde as wat ons alreeds betaal dan kan mense darem meer met hul geliefdes kan kommunikeer wat ver van mekaar af is met Whatsapp en Skype en watookal hulle daardie plesier gee. Of hulle kan spotprente of Meme’s stuur oor watter sirkus ons in woon wanneer politieke leiers in mekaar se keelgate afspring.

Dit is my mening oor die hele storie. Ons land is ‘n gemors. Mense steek wiele aan die brand weens swak dienslewering. Mense brand af en  gooi klippe om hul boodskap van ontvredenheid en frustrasies deur te dra aan burgermeesters, maar so ook die res van die land. Beurtkrag verwoes die ekonomie en die publieke vervoerstelsel is een helse groot fokop om die sagkens te stel.

Maar daar is ook so baie mooi dinge wat in hierdie land van ons plaasvind as wat die negatiewe dinge plaasvind waaroor ek geskryf het in hierdie inskrywing.

Ek praat nie juis politiek op sosiale media nie want in hierdie area kan jy jouself waarborg dat jy nie gaan wen nie. Almal het ‘n standpunt en hou daarby. Jy gaan nie wen nie want jy gaan ontsteld wees oor mense wat nie met jou sal saamstem nie en jou karakter sal afkraak. Glo my, om in daardie rigting in te gaan is nie die moeite werd nie.

Ek doen nie juis politiek op sosiale media nie want nie een van die partye of aktiviste hier genoem het daardie reg om te sê dat hulle namens my praat nie. Nie eens mense soos Steve, of wat is nou is daardie video blogger se naam wat opstaan en baklei vir die Afrikaner volk nou weer?

Ek praat nie juis politiek nie want dit is somtyds net oninteresant om daaroor te praat. Dit is oninteresant om te lees watter beloftes aan ons gemaak is, maar nie eintlik nagekom is nie. Of as lede van Parlement vloermoere soos 2-jariges gooi en dit oor ‘n man met die naam van De Klerk.

Ek skryf hierdie inskrywing want niemand het my ooit op sosiale media gevra wat my mening is oor die politieke stand van die land nie. So hier is dit. Ek noem dit net dat ek hierdie inskrywing in die donkerte moes neerpen voordat ek dit op hierdie blog geplaas het weens beurtkrag vanaand. Ek belowe jou ook sommer dat ek nie in drie tale gevloek het nie want ek kon darem my flitslig kry.

Ek speel dit veilig wanneer dit by politiek kom, al het ek daardie demokratiese reg op vryheid van spraak. Ek sal eerder bittergraag wil hê ons Suid-Afrikaners moet hande vat en saamwerk as om kante te kies en mekaar sleg te sê en met klippe te gooi, figuurlik gesproke. Dit is my droom waarvoor niemand my eers oor gevra het nie, maar vanaand ‘n dag voor my verjaarsdag gee.

Sien dit eerder as my verjaarsdagwens vir Suid-Afrika.

quote20200215190309

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s