Onmoontlik

Ek het omtrent ‘n paar jaar gelede die fliek, Wild met Reese Witherspoon in die hoofrol, op DVD gesien wat gebasseer is op Cheryl Strayed se reis na verlossing en hoop toe sy die Pacific Crest Trail in Noord Amerika gestap het in 1995. Die Pacific Crest Trail is 1770 kilometers ver en Cheryl Strayed het hierdie uitdaging aangepak na haar ma, Bobbi, se afsterwe aan kanker daarna. Cheryl Strayed het die uitdagende pad gestap met die hoop dat sy verlos sal word van haar verlede en dat sy haar Ma se dood kan verwerk.

Cheryl Strayed het die boek Wild: From Lost to Found on the Pacific Crest Trail in 2012 geskryf oor haar reis na heling en verlossing. Ek het ongelukkig nie die boek gelees nie, maar sal graag eendag wil. Ek bewonder Cheryl vir haar innerlike krag en dat sy kans gesien het om so ‘n groot uitdaging te doen. Ek het respek vir mense soos Cheryl Strayed wat net iets vir hulself wil doen, ten spyte van die vrae van mense of sy dit ooit werklik kan doen. Ek het respek vir Cheryl Strayed omdat sy iets wil vermag vir haarself en niemand anders nie. Somtyds moet jy dit net doen om jouself weer trots te maak.

Die groot staptog begin vanaf die grens in Mexico en strek tot in Kanada in. Mense wat hierdie staptog doen verdien baie respek. Ek is ook seker daarvan daar gaan nie ‘n dag verby waar mense net wil opgee nie. En ook wonder wat hulle besiel het om so iets aan te pak. Maar hulle hou uit want dit gaan tog die moeite werd wees vir hulle om hierdie uitdaging te voltooi.

Ek het nog nooit in my lewe so ver gestap nie al het ek ‘n bietjie meer onlangs begin met ‘n 5km hier en ‘n 3km daar wanneer ek elke dag oefen om net fiks te bly en liggaamlik goed te voel oor myself. Ek het nog nie die stamina om ‘n 1000 kilometers te stap nie, maar daar is altyd eendag. Ek was ook nie in situasie waarin Cheryl haarself bevind het nie. Voordat sy die Pacific Crest Trail gestap het, het sy haarself op die afdraende pad gevind wat haar lewe en haar huwelik van ses jaar verwoes het. Ek en Cheryl het wel iets in gemeen. Ons voltooi uitdagings, al voel dit soms onmoontlik om te vermag. Beide ek en Cheryl het foute gemaak in die lewe waarop ons beide nie trots sal wees nie. Maar ons almal maak maar foute.

Op Valentyns Dag vanjaar was dit net ‘n gewone dag vir my. Dit was niks spesiaal nie want ek is nie iemand wat glo in corny tradisies soos om ‘n dag van liefde te vier nie. Ek het daardie oggend geoefen net om fiks te bly en goed te voel. Ek sou nie die volgende dag aan ‘n Parkrun deelneem nie want ek was die volgende dag by my familie vir my verjaarsdag vieringe.

Daardie Valentynsoggend het my oefensessie tot dusver baie goed verloop. Totdat ek ‘n skerp pyn in my milt gevoel het. Dit was pynlik dat ek dubbel oor gebuig het van die pyn. Dit het gevoel asof ek besig was om my milt te beseer. Met genade en krag het ek dit tot by my werk gemaak en baie water gedrink. Ek het op ‘n tyd vermoed dat ek dit dalk net ‘n bietjie oordoen het met die oefening en dat ek nie genoeg water gedrink het nie.

Daardie aand was ek uitgedaag om ‘n redelike ent te gaan stap die volgende oggend. En dit was baie verder as wat ek daardie oggend gestruikel het om ordentlik te oefen. Daardie pynlike episode het deur my gedagtes gemaal en ek het onmiddelik in myself getwyfel of ek dit kon doen. Ek het wel met ‘n onsekere “ja’ navore gekom toe ek die uitdaging aanvaar het.

Die volgende oggend was ek vroeg wakker gewees wat basies beteken het dat ek die uitdaging aanvaar het. Met my bottel Energade het ek ‘n stadiger pas gestap as wat ek normaalweg stap, asof ek na my liggaam geluister het. Ek het ook ‘n Futurelife energie stafie geëet vooraf wat darem ‘n bietjie bygedra het dat my bene my kon dra van punt A tot punt B en terug. Al wat ek nie op my gehad het nie, was ‘n ordentlike stophorlosie maar dit is in my toekomsplanne. So met ander woorde het ek geen benul gehad hoe ver die afstand was wat ek gestap het nie.

Die staptog het baie goed verloop tot my grootste verbasing toe. Ek het nie aan die vorige dag se pynlike episode gedink nie, maar daardie vrees was daar dat die pyn weer sal opsteek wanneer ek dit die minste sal verwag. ‘n Paar kilometers in het dinge beter gegaan, totdat ek oppad huistoe gestap het.

Ek het ‘n spastiese kolon wat sowat agt jaar gelede sy kop uitgesteek het en wat op my staproete weer kop uitgesteek het. Ek het net op daardie tyd gedink dat hy net moet pyn want ek gaan my staptog klaarmaak. Ek is nie seker waar daardie skielike vasberadenheid vandaan gekom het nie, maar ek was baie dankbaar dat hy op die regte tyd gekom het.

Na ‘n tyd het ek ‘n bietjie beter gevoel en kon verder gaan en ek het geweet dat ek dit tot by die huis kon maak sonder enige insidente van enige aard. By die huis was ek die afstand gewys wat ek gestap het, wat my aangenaam verras het om te weet dat ek byna 10km kon stap, verder as wat ek altyd gewoonlik kon stap. Ek was verras gewees, maar laastens was ek baie trots op myself gewees.

Hierdie staptog wat ek op 15 Februarie gedoen het, was ‘n goed genoeg rede om trots te wees op myself. Ek is somtyds nie ‘n baie maklike mens om mee saam te leef nie. Ek het, soos met Cheryl Strayed, my tekortkominge. Ek is ongeduldig wanneer ek moeg is, soos in met baie moeg dat ek enige tyd op my bed kan neerval en sommer net so aan die slaap raak. Ek is somtyds buierig, veral na net ‘n paar uur se slaap. Ek maak foute en soms sal ek vir ure aaneen tob of ek ooit goed genoeg is vir mense. Met sulke aspekte van myself, sal daar dae wees dat ek ooit wonder of ek trots moet wees of nie. Dan doen ek iets soos met hierdie staptog en weet dat ek moet trots wees op myself en wat ek vermag het, al is hierdie staptog minimaal in vergelyking wat meeste mense al vermag het. En dit is om elke jaar deel te neem aan maratonne en ultra-maratonne soos die Comrades Maraton.

Hierdie staptog het my geleer dat dinge altyd onmoontlik lyk om te doen totdat dit werklik gedoen is.  My grootste swakheid is om in myself te twyfel. Ek bevraagteken somtyds elke liewe ding wat ek gedoen het of nog gaan doen. Ek twyfel soms in my besluitneming en ek het nie veel selfvertroue dan nie. Ek wonder soms of ek ooit die regte besluite geneem het op die dinge wat ek gedoen het of die woorde wat ek gespreek het. Soos ek beslis in myself getwyfel het toe ek die staptog aangepak het en getwyfel het of ek dit gaan voltooi voor dit als plaasgevind het.

Met hierdie staptog het ek geleer om in jouself te glo want daar is mense wat dit doen. Cheryl Strayed het in haarself geglo en dit is wat haar oor die eindstreep gekry het van die Pacific Crest Trail. Ek het daardie les net na die staptog geleer.

Nelson Mandela het gesê “It always seems impossible until it’s done”. Daardie woorde kan ek by my les byvoeg. Daar is dinge wat so onmoontlik lyk, totdat dit gedoen word. Ten spyte van my tekortkominge en my gebrek aan self-geloof somtyds, het ek iets gedoen wat ek gedink het ek nooit sou kon doen nie. Ek glo na daardie dag dat ek beter kan doen om my net daardie vertroue in myself te gee om uitdagings te kan vermag en myself trots te maak. Myself en my familie. Soos wat Cheryl Strayed gedoen het in 1995.

Wild Official Trailer #1 (2014) – Reese Witherspoon Movie HD

quote20200301121510

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s