Die Nuwe Normaal

Ek het in 2016 ‘n boek met die naam van Room geskryf deur Emma Donoghue, gelees wat oor Joy en haar seun, Jack, gegaan het wat aangehou was in ‘n baie klein kamer vir omtrent sewe jaar. Die kamer was toegerus met ‘n bed, kombuis, tafel en stoele, ‘n toilet en ‘n bad. Basiese benodighede wat Joy gehad het in haar benarde situasie. Sy was aangehou deur ‘n man met die naam van Old Nick en Jack is gebore in daardie kamer. Joy was na jare deur die polisie gered. Hierdie situasie waarin Joy haarself bevind het is geensins normaal nie, maar ongelukkig gebeur sulke gevalle wêreldwyd.

Joy het vir baie jare in afsondering van die wêreld geleef. Dit is nie eintlik ‘n vergelyking in met wat besig om te gebeur met mense wat positief getoets word vir die Coronavirus nie, maar om vir 14 dae in self-afsondering te leef kan netsowel voel asof dit sewe jaar kan wees. En dit is ongelukkg die nuwe normaal vir ons as mense op planeet Aarde.

‘n Nuwe normaal is wanneer ‘n virus van katastrofiese aard die mensdom tref en jou paniekerig laat voel, soveel so dat jy na jou naaste Makro, Pick ‘n Pay of Checkers sal haas om trollies vol blikkies kos, brood, aanvullings en toiletpapier te koop. Dit is so iets wat die selfsugtigheid uit mense uitbring en dit, naas gierigheid, bly maar die wortel van alle kwaad. Want in ‘n toestand van paniek word daar geensins gedink aan mense wat dit nie kan bekostig om uit pure paniek honderde blikkies kos en brood te kan koop nie, asook hand seep te kan koop by die dosyne nie.

‘n Nuwe normaal is wat presies ons in die gesig staar. ‘n Nuwe normaal hou grootskaalse onsekerheid in wat die toekoms inhou. ‘n Nuwe normaal is wat jou absoluut bang maak vir kieme dat jy elke vyf minute jou hande moet was om te verseker dat jy nie die kiem kry wat aan oppervlakke was soos tafels nie.

Dit is ‘n ongekende vrees wat oorneem by jou wanneer die vraag by jou opkom of die persoon wat langs jou in die bus sit of saam met jou in die lang ry van ‘n winkel staan ook nie die virus het nie. Die nuwe normaal is wanneer jy self elke dag wonder of jy nie dalk die virus het nie, al tref jy die nodige voorsorgmaatreëls soos om jou hande te was en genoeg vitamienes te neem.

‘n Nuwe normaal is wanneer jy nie kan Kerkdienste bywoon nie, maar eerder dit aanlyn kyk as jy fibre by die huis het. ‘n Nuwe normaal is wanneer sosiale byeenkomste en toekenningsaande een op die ander gekanselleer word weens die nuwe beperkings wat Sondagaand, 15 Maart deur Cyril Ramaphosa ingestel is dat nie meer as ‘n 100 mense mag saam wees by een enkele byeenkoms nie.

‘n Nuwe normaal is wanneer rugbytoernooie soos die Super Rugby en die twee oseane maraton gekanselleer word kort-kort na mekaar. As die grootste rugby toernooi ter wêreld vir eers van die baan af is, dan my liefie, is ons in die k@k.

‘n Nuwe normaal is wanneer toeriste aangesê word om liefs Suid-Afrika te vermy om die verspreiding van COVID-19 te verhoed. Lande soos Amerika, Italië, China en Britanje was die spreekwoordelike deur gewys deur die regering totdat daardie beperking gelig word.

‘n Nuwe normaal is wanneer kinders ‘n vroeë geskenk kry van die regering deur om op ‘n baie onverwagse tyd op vakansie te gaan, net om die verspreiding van die virus te verhoed. Maar dit beteken ook nie dat kinders in winkelsentrums kan rondhang en hul gunsteling rekenaar speletjies kan koop soos wat hulle graag wou nie. Of na publieke uithangplekke te gaan soos swembaddens en kampeer plekke nie, want dit is in elkgeval toe tot verdere kennisgewing wat aangekondig was deur die Stad Kaapstad.

Die wêreld verander gedurig in ‘n soortvan nuwe normaal in. Daar was soveel erge dinge wat al plaasgevind het soos natuurrampe en ongelukkigheid in situasies wat basies polities van aard is en wat ons glad nie bevoordeel nie. Die lewe daarna gaan voort na elke terugslag wat ons al beleef het. En elke dag staar ons net nuwe uitdagings en probleme in die gesig wat tog eendag weer sal verbygaan en ons dankbaar laat voel omdat ons dit deurgemaak het en daaruit geleer het.

Elke dag gaan ons werk toe, ons spandeer tyd saam met ons families, ons kinders, ons vriende. Ons help kinders met hul huiswerk en sorg dat hulle met genoeg komberse, ‘n gemaklike bed en vol mae slaap. Ons betaal rekeninge, ons baklei met publieke vervoer maatskappye om ons darem vroeër by die huis te kry as ons uitgeput is na ‘n lang dag by die werk. As ons gelukkig is, bederf ons onsself met ietsie lekkers soos ‘n boks Spar paaseiers en ‘n binch watch sessie op ‘n Sondagmiddag wanneer jy lus voel om die wel en wee van die dokters van Grey’s Anatomy te kryk. So elke nou en dan is daar ‘n klip in die pad wat verhoed dat die lewe net ‘n bietjie makliker gaan, maar ons oorleef elke uitdaging, elke terugslag en elke hindernis.

Vir my is hierdie nuwe normaal wel, baie vreemd. Dit is vir biljoene mense baie vreemd. Om so min as moontlik uit die huis uit te kan beweeg, behalwe nou om werk toe te gaan is beslis iets wat baie lank gaan neem om aan gewoond te raak. Hierdie nuwe normaal is hartseer genoeg, geensins normaal nie. Om voorsorg te tref soos om my hande meer as gewoonlik te was en van een Clicks winkel na die ander rond te skarrel op soek na ‘n boks vitamiene C is ook nie normaal nie. Ongelukkig is die uit ons almal se hande uit en is iets  waaraan ons moet gewoond raak.

Met so ‘n situasie of krisis wonder ek altyd hoekom dit gebeur? Hoekom vind dit plaas in hierdie jaar en watter lesse daarin is. Met die waterkrisis in die Weskaap twee jaar gelede was daar een les geleer. Waardeer wat jy het en dinge gebeur altyd op sy eie tyd wanneer jy op jou knieë gebring word. Water is die kosbaarste element wat ons almal aan die gang hou en dat ons uit dankbaarheid moet leef wanneer elke druppel in die damme van die Weskaap val. Die krisis het ons geleer van dankbaarheid en waardering.

Met hierdie nuwe normaal het ek meer vrae wat antwoorde nodig het. Maar sulke dinge gebeur op sy eie tyd. My vrae wissel van is dit om vir ons te leer van afsondering en om op ons geloof staat te maak wanneer daar krisisse opduik in ons lewens? Of is dit om iets waardevols te leer dat ons naasbestaandes meer moet waardeer word as wat hulle al klaar is, want die môre’s is nooit gewaarborg nie. Dalk lê die les van die Coronavirus in geloof. Om net ‘n bietjie meer daarvan te hê want ons almal sal op een of ander manier deur dit kom.

Dit kan dalk wees dat ons nie moed opgee nie en harder te baklei om oorlewing soos met Joy en haar seun, Jack? Moontlik is dit die mensdom se wil om te oorleef en aan maniere te dink om hierdie virus te keer voordat dit katastrofiese gevolge vir ons almal inhou. Dalk is dit om net minder selfsugtig op te tree en ander mense in oorweging te neem want soos die lirieke van Travis se lied Side daarop dui dat ons almal onder dieselfde lig bly, ons almal leef en ons almal sal sterf, die sirkel het net een kant, is ons almal dieselfde geskape met presies dieselfde dinge wat ons benodig om aan die lewe te bly.

Dalk lê die les om baie beter na onsself te kyk en te besef dat ons gesondheid, ongeag hoe dinge lyk in jou familielewe of jou werk, meer belangrik is as enige iets anders. Of dalk is dit dat jou familie altyd eerste kom ook, en niks anders nie. Wie weet watter lesse uit hierdie krisis geleer kan word en hoe ons as mense kan verander om beter mense te word.

Die nuwe normaal is glad nie die normaal wat ons voorgestel dit gaan wees nie. Niemand kon voorsien dat die Coronavirus so ‘n groot krisis gaan wees vir ons nie. Niemand kon soveel sterftes voorsien nie. Niemand kon voorsien dat so baie lande hard werk om die virus onder beheer te bring nie. Maar dit is die kaart wat aan ons as mense uitgedeel is. Hoe ons dit as individu speel, hang net van ons af.

Ons almal baklei om oorlewing nou. Soos ek nou hier sit, wonder ek oor môre en wat dit gaan bring. Ek wonder oor my toekoms. Ek wonder oor baie dinge en ek wonder veral oor die lesse hierdie krisis mag bring. Die les wat ons almal hieruit kan leer is om vas te hou aan jou geloof en te hoop en te bid dat hierdie krisis gouer afgeweer kan word. Want dit is nie net een land se krisis om nou onder beheer te bring nie. Dit is elke land se krisis wat ‘n oplossing nodig het.

Die les is ook om nie so gou tou op te gooi nie, soos met Joy en haar seun, Jack. Want als gaan weer okay wees eendag.

quote20200316192338

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s