Realiteit

Twee weke gelede was dinge soortvan normaal. Ek het soos normaal werk toe gegaan, tyd saam my familie spandeer, elke Saterdag aan Parkruns deelgeneem en my uiterste bes gedoen om my persoonlike beste te maak, net om daarna Spar toe te gaan en die heerlikste donuts te koop. Ek het ‘n bietjie Super Rugby gekyk. Ek het daarna flieks en Grey’s Anatomy gekyk.

Ek het saam met meer as ‘n duisend mense ‘n kerkdiens in St James Church in Kenilworth gesit om te hoor wat die boodskap is. Ek het saam met my familie gebraai daardie Sondagmiddag, en myself half doodgeskrik met die dondeweer en weerlig wat net te skielik die Kaap wakker gemaak het. Ek het daarna weer ‘n paar episodes van Grey’s Anatomy seisoen 8 gekyk. Jy weet, die gewone naweek dinge voordat die realiteite van ‘n nuwe werksweek gaan  inskop.

Ek kon weke terug om beurtkrag werk om te oorleef en in suiwer donkerte met ‘n baie klein LED flitslig wat ek ‘n paar jaar gelede by Dischem gekoop het, lees hoe Carina Human besig is om vir Jacques Rynhard te soek in Ballade vir ‘n Enkeling. Hey, ek het dit darem reggekry om ‘n uiltjie of twee te knip omdat ek so moeg was na ‘n lang week. Dit is hoe my lewe eens altyd was. Daardie gewoontes en aktiwiteite is vir nou eers op ys geplaas.

Ek het vir die laaste vyf maande of so elke oggend geoefen. Ek het geoefen en basies geleef vir Saterdae oggende wanneer die Parkrun plaasgevind het. Dit was ongelooflik gewees om mense van alle stappe van die lewe te ontmoet met hul eie doel voor oë. Baie van ons wou een doel vermag het. En dit was om ons persoonlike beste te klop en trots te wees daarop. Ander weer, het net deelgeneem vir die pret daarvan. ‘n Aktiwiteit wat hulle saam gedoen het as familie. Mense het hul honde saamgebring as deel van die pret.

En elke Saterdag vir die laaste drie maande het ek na ‘n bakkery gegaan om donuts en koffie te koop, of na die Spar om ‘n boks donuts te koop en koffie by die huis te geniet. Dit was net iets om myself mee te bederf na die Parkrun. En as ek nie koffie gedrink het nie, het ek myself bederf met ‘n beker Mocha Choca.

Vir die laaste elf jaar het ek byna elke Sondag kerkdienste bygewoon by St James Church in Kenilworth om betekenisvolle boodskappe te ontvang. Die mees betekenisvolle boodskap wat eintlik deurgedring het by my was vanuit die teksvers Mattheus 6 vers 34. En dit is om jouself nie te bekommer oor wat môre mag bring nie, want die volgende dag sal homself bekommer soos dit is.

Want om baie eerlik te wees het ek net daardie swakheid om myself te bekommer oor juis wat môre mag bring. Miskien in ‘n tyd soos vandag is dit normaal om oor die môre’s van die lewe te bekommer. Of net eenvoudiglik om jou vertroue te plaas in die hande te plaas waar als nie onmoontlik is nie. Daardie boodskap het gevoel asof dit reguit na my toe gerig was ‘n paar jaar gelede.

Want kom môre gaan ek myself bekommer oor wat voorlê. Hoe Maandag gaan uitdraai nog voordat dit behoorlik begin het. Of dit goed of sleg gaan wees. Want na ‘n werksdag, of dit ‘n lekker dag was of sleg, klim ek in ‘n bus of ek staan en wag vir een, wat nie altyd so lekker is om vir een te wag nie, veral nie as jy so spookmoeg is nie. Op die bus sit ek my oorfone aan en laat ten minstens dit toe dat rustige musiek kalmte oor my bring en my laat vergeet van al my bekommernisse.

Soos genoem in my eerste paragraaf van hierdie inskrywing, was dinge normaal. Tot die gevreesde Coronavirus Suid-Afrika getref het. Soos ek hierdie inskrywing nou doen, is daar meer as tweehonderd gevalle aangemeld. Dit gaan styg soos die dae aanbeweeg ongelukkig. President Ramaphosa het verlede week en Sondagaand, aankondigings gemaak en streng regulasies ingestel wat als verander oor hoe ons lewenstyle gehandhaaf word en hoe ons oor onsself dink as mense.

Vandag lewe ons in hierdie soort angs wat soos vreesbevange laat voel om selfs ons neuse by die deur uit te steek. Die onsekerheid is tien teen een die ergste gevoel. Die vrees. Die angs. Dit het nou deel van ons daaglikse bestaan geword. Dit en die feit dat ons almal noodgedwonge ons lewenstyle moes verander het om aan te pas by die nuwe normaal wat net skielik gebeur het. Dit en ons uitkyk op die lewe in die algemeen.

Soos ek nou aan hierdie inskrywing werk, sou ek miskien myself reggemaak het vanaand na ‘n toekenningsaand toe te gaan. En vir seker ook om te wonder of my uitrusting en goedkoop skoene ooit goed genoeg sal wees tussen mense wat al naam in ‘n glansryke bedryf gemaak het.

Ek het darem ‘n bietjie meer positief oor myself vanoggend gevoel toe ek 11.44km gestap het. Die vorige dag het ek 8km gestap. Dit is die eerste keer dat ek net stap om fiks te bly, en niks anders nie. Ek voel dat, na vanoggend se stapsessie, kan ek meer vermag as wat ek vanoggend vermag het.

Ek voel so want vir die volgende twee of miskien drie maande gaan daar geen Parkruns wees om aan deel te neem nie. Dit is ter verstane met die nuwe wetgewings en so. Mense se gesondheid is nou van meer belang as ‘n persoonlike beste tyd. Dit is hoe ek dinge vandag sien.

Ek het vir die eerste keer in my lewe ‘n kerkdiens aanlyn vanoggend gekyk by die huis in plaas van om saam met duisende mense God te dien en Hom te bedank dat ek nog ‘n dag kon beleef in Sy teenwoordigheid. Dit is ‘n vreemde gevoel om met my voete op die rusbank te sit en die boodskap te ontvang en nog vreemder om met ‘n beker Jacobs koffie te bid in my een hand.

In die week het ek myself van een apteek na ‘n ander gehaas met die hoop dat ek ten minstens net een bottel vitamiene C in die hande te kry. Dit was in midde van pure paniek uitverkoop, soos met blikkies kos, toiletpapier en handreinigers wat soos soetkoek van die rakke afgewaai het.

In vandag se tye was ek my hande baie meer as gewoonlik. Ek was my hande voordag ek op ‘n bus klim. Ek was my hande sodra ek by die huis aankom. Ek was my hande omtrent ses keer wanneer ek besig is met “springcleaning”. Ek was my hande somtdyds vir geen rede nie. Ek maak tuisgemaakte maskers als te danke aan bandannas, rekkies en Youtube.

In ‘n bestek van een week is my lewe soortvan nooit weer dieselfde nie. Vir niemand is dit meer dieselfde nie. My uitkyk bestaan uit om ‘n bietjie beter na myself te kyk as wat ek al klaar doen. My uitkyk bestaan uit om te bid vir die siekes en te hoop op ‘n spoedige herstel. My uitkyk bestaan uit om vir die dokters en verpleegsters te bid wat ure aaneen werk om mense te help.

Die lewe nou bestaan om in die veiligheid van huise tyd saam met familie te spandeer. Om jouself te probeer vermaak met boeke, flieks en om TV-Reekse aanlyn te volg. Die lewe bestaan nou om sonder enige verwagtinge na sport op ‘n Saterdag uit te sien. Die lewe bestaan nou om kos en benodighede aan te koop sonder enige paniek en selfsugtigheid.

Die lewe kan ook bestaan om God te vertrou dat als okay gaan wees, al voel dit vandag nie so nie. Want soos dinge nie uitwerk op die oomblik nie, is geloof en hoop al wat jou aan die gang gaan hou deur hierdie tyd van onsekerheid. Die wêreld het verander op ‘n baie vreemde en angswekkende manier, maar om moed en geloof te hê gaan enige iemand deurkry in die moeilikste van alle tye. Van môre sal vir homself sorg.

quote20200316192338

quote20200322123920

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s