Politiek

Ek het vir ‘n redelike tydjie gewik en geweeg of ek hierdie inskrywing moet doen vir ‘n paar redes. Vir ‘n hele paar weke al om baie eerlik te wees want ek is nie iemand wat so maklik oor hierdie onderwerp sal skryf mits dit beteken dat daar my kop vir my gewas gaan word op sosiale media oor sekere uitlatings nie, of daar mag dalk net ‘n skermgreep of twee of drie van my stellings of opinies op iemand anders se tydlyn verskyn, terwyl die persoon dit heeltemal misverstaan het.

Mag dit vandag, 15 Februarie 2020 en een dag voor my 38ste verjaarsdag, die eerste keer wees dat ek hieroor sal skryf met daardie kleine bietjie hoop binne-in my dat niemand op my kop sal bollie nie en dat niemand skermgrepe hiervan sal neem nie. Hierdie onderwerp was soortvan ook aangevuur deur Donderdagaand se “Staatsrede” waar ek nie hoef te beskryf wat gebeur het nie, want almal weet. Of moet ek dit verwys as ‘n sirkus?

Vandag het ek so ‘n bietjie deur memory lane op Facebook gegaan en gesien dat dit vandag presies twee jaar is dat Suid-Afrika wakker geword het met die nuus dat Jacob Zuma as president van ons land bedank het. Suid-Afrika het homself in ‘n onsekere situasie en toekoms bevind, maar dit was ook ‘n begin van nuwe dinge gewees. Vir my was dit ‘n tydperk van onsekerheid. Niemand in ons pragtige land het eintlik geweet wat op ons wag nie. Cyril Ramaphosa, Suid-Afrika se huidige leier, het op my 36ste verjaarsdag, sy heel eerste Staatsrede in die Parlement gelewer. Suid-Afrika was in afwagting daarvoor, maar ek was nog ‘n bietjie baie onseker oor die toekoms van ons land.

Ek kyk terug na Februarie 2015. Ek onthou hoe chaos dinge was voor die Opening van Parlement en Jacob Zuma se staatsrede toe ondersteuners van die ANC, die EFF en die DA mekaar aangevat het en ek en twee van my kollegas vasgevang was daarin met polisie en waterkanonne tussen ons. Dinge het nie veel beter gegaan met die eintlike staatsrede nie met die EFF, die DA en COPE wat die Huis van die Parlement verlaat het voordat Zuma ordentlik kon begin.

Gaan terug in Mei 2014. Ek het vir die heel eerste keer in my leeftyd op 32-jarige ouderdom gestem in die algemene verkiesing. Ek het my redes oor hoekom ek eers 14 jaar later besluit het om my kruisies te maak. Een van daardie redes was dat ek baie negatief was oor ons land. Ek het ook gevoel dat nie als oor politiek gegaan het nie en dat daar meer was tot net dit. My lewe het nie gewentel oor wat Zuma als kwytgeraak het nie. Of wat Helen Zille als op Twitter laat blyk het nie. Of erger, watter vloermoere Malema gegooi het nie.

Gaan vyf jaar vorentoe in 2019. Ek het weer my kruisies gemaak in die Algemene Verkiesing, in ‘n tyd waar als so ‘n warboel was in ons land. Met beurtkrag, korrupsie, hoë misdaadsyfers en ‘n uiterse swak ekonomie het my eintlik laat dink hoeveel keer moet ek oor my skouer loer elke dag en hoeveel korrels Jacobs koffie ek in my beker mag toelaat?

Een jaar later en al die dinge is nog presies dieselfde. Cyril Ramaphosa is nogsteeds ons president, name soos Judas word toegesnou van een voormalige leier na een huidige leier, en Malema en sy maatjies wat een helse vloermoer gooi en ‘n uur en ‘n half later weer uitgegooi was met die Staatsrede Donderdagaand. Ons almal weet dit. Suid-Afrika het na hul selfone gegryp en hul menings daaroor gelig. Dit sal teen volgende week baie ou nuus wees.

Sal ek my naam en my karakter nou op die spel plaas om iets oor die hele situasie sê op sosiale media? Wel, Donderdagaand was erg vir my gewees. Ek was eers ‘n uur later uit die stad uit oppad huistoe weens soldate wat genadiglik nie Suid-Afrika se naam met ‘n plank geslaan nie, nie soos sekere lede van die polisie tydens ‘n begrafnis nie. Die strate was toe in en om die stad wat my behoorlik moeg en moedeloos laat voel het. Nog om alles te kroon was die M3 gesluit en alle voertuie was gelei op die pad waar ek was, wat my nog verder vertraag het om by die huis te kom en my verder die moer in gemaak het as wat ek al klaar was. My stelling oor die hele staatsrede nadat Malema en kie hul speelgoed rondgegooi het? Op facebook het dit ‘n bietjie soos dit geklink: Ek het later by die huis aangekom vanaand en dit vir hierdie sirkus. Go figure!

Dit was ‘n rare ooblik by my om my stellings te maak wat polities van aard is. Gewoonlik deins ek weg en doen dit glad nie. Daardie oomblik het uit ‘n plek van pure uitputting en frustrasie gekom. Ek het al geleer dat sosiale media en politiek meng glad nie so lekker nie. Vra vir Julius, vra vir Steve, vra selfs vir Donald Trump wat soms vergeet om sy CAPS lock af te sit wanneer hy besig is om sy eie ego aan te blaas op Twitter.

Daar is eenvoudiglik net dae wanneer daar tweets of Facebook inskrywings van politieke figure of aktiviste verskyn wat my laat dink: “rêrig nou?”. Moes hy of sy daardie onnodige stelling maak of moet alles in die lewe oor politiek gaan. Mense soos Steve en Julius wat ‘n wig tussen Suid-Afrikaners probeer dryf met hul politiese “korrekte” stellings. Ek wonder wat het geword van samesyn en vrede sodra politiek inkom in ‘n gesprek in. Dit is moontlik wanneer groot, opgeblaaste egos eenkant toe gesit word.

Daar is groot probleme en uitdagings in Suid-Afrika. Ek is lief vir my land en sy mense, maar ek is beslis nie naïef om te sien wat besig is om te gebeur nie. As dit nie ‘n swak ekonomie is nie, dan is dit ‘n “sieklike” Zuma wat veronderstel was om by ‘n kommissie of twee of drie te wees, maar dit gemis het.

As Eskom die liggies aanhou vir langer as ‘n maand, is dit ongelooflik baie lank vir ons en hulle en kan beskou word as ‘n baie groot wonderwerk, maar ongelukkig bestaan wonderwerke nie wanneer dit by Eskom kom nie. Eskom is nogsteeds soek na daardie verlore eenhede wat Fase 3 beurtkrag veroorsaak het. Of sukkel hulle met nat steenkool? Wat van daardie gebreekte vervoerband wat aanhou breek en Fase 6 beurtkrag veroorsaak? Sulke flou verskonings sal natuurlik elke liewe Suid-Afrikaner die dondeweer in maak en rugby ondersteuners laat vloek van frustrasie omdat hulle gemis het hoe die Stormers die Leeus in die laaste minuut vanmiddag geklop het? Beurtkrag is omtrent die enigste tyd wanneer ek in drie verskillende tale kan vloek wanneer ek na my flitslig soek in pik hel donkerte.

As die Suid-Afrikaanse Lugdienste meer as tien vliegtuie in die lig het, is dit ook ‘n wonderwerk. Dit bly baie hartseer dat die eens beste wêreldklas lugredery reg onder in die pit is en nog verder agteruit gaan as wat dit al klaar is.

As Jacobs koffie R49.95 by groot kettingwinkel groepe is, sal ek maklik vyf flesse daarvan koop. Of as Sasko brood en Clover melk net goedkoper kan wees as ‘n klein ou pakkie OMO waspoeier kan Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn lewe, ook ordentlik kan slaap met vol magies en die wete dat hul kinders gevoed is.

En as selfoon netwerke se damn data-pryse net verminder kan word met die helfde as wat ons alreeds betaal dan kan mense darem meer met hul geliefdes kan kommunikeer wat ver van mekaar af is met Whatsapp en Skype en watookal hulle daardie plesier gee. Of hulle kan spotprente of Meme’s stuur oor watter sirkus ons in woon wanneer politieke leiers in mekaar se keelgate afspring.

Dit is my mening oor die hele storie. Ons land is ‘n gemors. Mense steek wiele aan die brand weens swak dienslewering. Mense brand af en  gooi klippe om hul boodskap van ontvredenheid en frustrasies deur te dra aan burgermeesters, maar so ook die res van die land. Beurtkrag verwoes die ekonomie en die publieke vervoerstelsel is een helse groot fokop om die sagkens te stel.

Maar daar is ook so baie mooi dinge wat in hierdie land van ons plaasvind as wat die negatiewe dinge plaasvind waaroor ek geskryf het in hierdie inskrywing.

Ek praat nie juis politiek op sosiale media nie want in hierdie area kan jy jouself waarborg dat jy nie gaan wen nie. Almal het ‘n standpunt en hou daarby. Jy gaan nie wen nie want jy gaan ontsteld wees oor mense wat nie met jou sal saamstem nie en jou karakter sal afkraak. Glo my, om in daardie rigting in te gaan is nie die moeite werd nie.

Ek doen nie juis politiek op sosiale media nie want nie een van die partye of aktiviste hier genoem het daardie reg om te sê dat hulle namens my praat nie. Nie eens mense soos Steve, of wat is nou is daardie video blogger se naam wat opstaan en baklei vir die Afrikaner volk nou weer?

Ek praat nie juis politiek nie want dit is somtyds net oninteresant om daaroor te praat. Dit is oninteresant om te lees watter beloftes aan ons gemaak is, maar nie eintlik nagekom is nie. Of as lede van Parlement vloermoere soos 2-jariges gooi en dit oor ‘n man met die naam van De Klerk.

Ek skryf hierdie inskrywing want niemand het my ooit op sosiale media gevra wat my mening is oor die politieke stand van die land nie. So hier is dit. Ek noem dit net dat ek hierdie inskrywing in die donkerte moes neerpen voordat ek dit op hierdie blog geplaas het weens beurtkrag vanaand. Ek belowe jou ook sommer dat ek nie in drie tale gevloek het nie want ek kon darem my flitslig kry.

Ek speel dit veilig wanneer dit by politiek kom, al het ek daardie demokratiese reg op vryheid van spraak. Ek sal eerder bittergraag wil hê ons Suid-Afrikaners moet hande vat en saamwerk as om kante te kies en mekaar sleg te sê en met klippe te gooi, figuurlik gesproke. Dit is my droom waarvoor niemand my eers oor gevra het nie, maar vanaand ‘n dag voor my verjaarsdag gee.

Sien dit eerder as my verjaarsdagwens vir Suid-Afrika.

quote20200215190309

 

Reputasie

Die fliek, 10 Things I Hate About You, was en is nogsteeds een van my vele gunstelinge om te kyk wanneer die lewe druk of net te hard is op my. Of wanneer is lus is om net weer lekker te lag na ‘n moeilike dag. Dit is een van daardie flieks, uit my oogpunt, wat nooit oud sal word nie.

Vir diè wat na die jaar 2000 gebore is, die storie is oor twee susters, Cat en Bianca Stratford, wat saam met hul oor-beskermende Pa bly nadat hul ma hulle verlaat het toe hulle jonger was. Die pa se reëls is dat hulle nie kêrels mag hê totdat hulle oud genoeg is nie. Die pa verander die reël dat Bianca mag uitgaan met seuns, mits Cat ‘n kêrel kry.

Ongelukkig vir Bianca het Cat ‘n reputasie gekry as iemand wat eerder ongewild en alleen wil wees. Sy wat Cat is, het net siek geraak daarvan om gewild te wees en mense se verwagtinge na te streef om iemand te wees wat sy nie wil wees nie, iemand soos haar eie suster natuurlik. Bianca is een van die gewildste studente in hul skool en die seuns staan tou om haar uit te neem.

Cat gee nie om wat mense van haar dink nie of hoeveel mense sy affekteer met haar optrede en aksies nie. Sy wil net basies haarself wees. Iemand wat hou van Indie musiek, boeke en nie uitgaan na partytjies nie.

Met genade was ek nie populêr toe ek op skool was nie. Nie eens naastenby nie. Ek was, om baie destydse leerlingraad nie omdat my gebrek aan leierskap my in die steek gelaat het, en in daardie tyd was ek verlig dit het. Ek was ‘n skaam en teruggetrokke tiener gewees met vriende wat van my gehou het nes ek is.

Ek was ‘n bol senuwees toe ek voor ‘n klaskamer vol kinders mondeling moes doen en ek het nie met einde van elke skoolkwartaal bo-aan die lys van die akademiese studente geboer nie, maar ek het okay vir myself gedoen.

Dit is die soort mens wat ek was tydens my tienerjare vol groeipyne en uitdagings. Ek was iemand wat eerder haar neus in ‘n Sweet Valley High boek gehad het as om dinge te doen wat tieners normaalweg doen en dit is om in Malls uit te hang op soeke na daardie Levi Jean by Mr. Price. Ek sou eerder wonder wat Joey en Pacey als doen in Dawson’s Creek as om na partytjies en danse te gaan. Ek was ‘n introvert en is nogsteeds vandag as ek verkies om Grey’s Anatomy op ‘n Saterdagaand te kyk of my neus in ‘n boek te hê tydens beurtkrag.

Niemand het daardie feite van my lewe geken totdat ek dit sopas genoem het nie. Mense sê altyd jy is wat jy sê, jy is met die woorde wat jy spreek teenoor ander, jy is wat jy eet, jy is met die klere wat jy aan jou lyf het. En die belangrikste van dit als, jy is hoe jy optree teenoor mense.

Volgens mense is jy dit of jy is dat. Jy is sis of jy is so. Jy is ‘n sprankelende straal van sonskyn, of ‘n vars briesie. Of jy is ‘n bliksemstraal sekondes voor die donderweer. Jy dra die mooiste rokke of stylvolle broekpakke. Of jy kan iemand wees wat kort broeke dra met spaghetti-strap toppies wat jy by Pick ‘n Pay clothing vir ‘n spesiale afslag gekry het. Jy eet gesond en weeg jouself elke naweek om te hoop dat daardie uitsonderlike dieët wat jy in die nuutste uitgawe van Cosmopolitan gesien het, werk of jy is so lus vir daardie kaasburger by Burger King met ‘n groot koppie Coke daarby ook. Of as jy nou soos ek is, lus is vir ‘n Amerikaanse donut met ‘n beker Jacobs koffie met creamer na ‘n parkrun of twee.

Nog iets wat ek nie genoem het nie. Ek is mal oor Jacobs koffie, of enige ander koffie as ek opgewerk voel as die Stormers of Proteas nonsens op die veld maak. Baie mense sal nou aanneem dat ek ‘n suikertand het wat byna elke dag iets soets sal eet. Mense doen dit wel. Die waarheid is dat ek nie myself elke dag siek sal eet aan ‘n slab Cadbury sjokolade nie. Ek bederf eerder myself oor naweke met dit. Ek sal my slaappatrone nog verder bederf as ek elke dag teveel suiker inkry, en slaap is iets wat soms skaars is by my.

Ek het ‘n reputasie by mense wat dinge nie sal insien soos hulle dit insien nie. En ongelukkig is dit meestal polities gesproke, wat ‘n onderwerp is wat ek so vêr as moontlik probeer vermy. Ongelukkig vir daardie mense ken hulle my nie eintlik baie goed genoeg om daardie soort reputasie vooruit te laat loop in die eerste plek nie.

Daar sal ook somtyds, maar darem nie gereeld genoeg nie, ‘n skermgreep van my tweets op sosiale media verskyn en my verduidelikings verkeerdelik sal opneem as kinderagtig, en dit terwyl ek bloot net opgestaan het vir myself juis omdat daar ‘n heeltemal verkeerde aanname gemaak was van my in die eerste plek.

Mense vorm menings van jou en laat ‘n reputasie van jou vooruit net omdat hulle jou aan die uiterlike sien. Hulle som jou op as gaaf of gemeen, maar weet hulle werklik wat binne-in jou aangaan. Hulle sal so vêr gaan om stories oor jou op te maak of woorde te verdraai om hulle te pas, sonder om seker te maak van hul feite.

Sekere dinge van die lewe kry my onder en bring die slegte kant van my uit. Soos met die een aand waar ek baie laat by die huis aangekom het na ‘n lang dag by die werk en my frustrasies op sosiale media uitgehaal het. Dit kom nadat ek vir twee en ‘n half uur in die verkeer vasgesit het. Die waarheid was dat ek moeg was nadat ek drie mense se werk moes doen. Niemand sal vra hoekom ek so afgehaal voel nie. Hulle sal my net opsom as gemeen sonder dat hulle my werklik ken.

Dit kom neer daarop dat mense nie hulself moet bekommer oor hul reputasie nie, maar eerder oor hul karakter. Want ‘n reputasie is wie mense dink jy is, en jou karakter is wie jy werklik is. Ek gee meeste van die tyd nie juis om wat mense van my dink nie, veral as ek met doodgewone klere en tekkies deur Kaapstadse middestad stap met ‘n rugsak op my rug nie.

Mense sal dink ek is ‘n student, maar nie my werklik ken nie. Ek is iemand in baie mense se oë. Hulle ken my storie, my agtergrond, my hele geskiedenis. Vir die hele paar duisend wat in Kaapstad werk is ek maar net nog ‘n iemand wat oppad werk toe is, of dalk oppad college toe is besig om ‘n rekenaar kursus te volg.

In die bus wat ek elke oggend en aand neem, is ek maar net nog ‘n iemand wat haar neus in ‘n boek het, na Paramore se Riot Act of Karen Zoid se Chasing the Sun terwyl ek lees oor hoe Carina Human besig is om Jacques Reinhard te soek in Ballade vir ‘n Enkeling.

Ek het met daardie mense in die stad of in die bus nie ‘n reputasie wat reg of lelik skeef kan trek nie. Ek is maar net nog ‘n iemand wat werk om vir myself te sorg. As ek daar is, weet niemand enige iets van my af nie. Ek is nie populêr of gewild in daardie mense se oë nie, of ek is nie ‘n uitstaande persoon in hul oë nie. Ek is iemand soos Cat Stratford wat sonder enige verwagtinge leef.

Want ‘n reputasie beteken meeste van die tyd absoluut niks. Jou karakter wys wie jy werklik is in die lewe en wie jy wil wees.

quote20200207184540

 

Een jaar gelede

Net verlede week het ek na Kerk in die kar gesit oppad Spar toe. My ma het ‘n boodskap van my suster gekry, asook ‘n oproep. Ek het onmiddelik gedink daar was iets fout. Ek het onmiddelik gedink dat daar iets fout was met my niggie en dat sy dalk siek is. Op die ou einde was dit maar net ‘n geval dat my suster iets wou geweet het by my Ma.

Daardie vrees het navore gekom dat daar iets fout was juis omdat dit byna ‘n jaar was dat ek my foon uit my handsak uitgehaal het na die kerkdiens en baie slegte nuus ontvang het. Ek onthou daardie hartseer deel soos gister. Die nuus het gedui dat my vriend en kollega gesterf het aan kanker. Lewerkanker om presies te wees. My vriend was nog jonk gewees. Hy was 51 jaar oud. Ek is tot vandag toe bang om my foon na ‘n kerkdiens uit te haal, net om die ergste te verwag.

Ek het daardie oggend huistoe gegaan en onmiddelik in trane uitgebars. Van skok. Van hartseer oor die verlies van ‘n vriend. Ek kon nie reguit dink nie. Ek kon nie ordentlik dink nie. Al wat ek wou gewees het was om alleen te wees, ten spyte van die ongelooflike steun van my familie en vriende. Ek kon nie glo dat kanker nog iemand in my lewe weggeneem het nie. Dat iemand wat ek ken sy lewe verloor het aan kanker.

Die volgende dag wou ek nie werk toe gegaan het nie. Ek wou by die huis gebly het. Die nuus van sy dood het gekom twee dae nadat ek gehoor het dat ek ‘n operasie moet ondergaan om al vier my verstandtande te verwyder, ‘n skok op sy eie. Die nuus van sy afsterwe sou my gedwing het om verby sy lessenaar te stap elke dag met die wete dat hy nie weer daar gaan wees nie. Dit was die deel wat die seerste gemaak het van als. Dat hy nie meer daar gaan wees nie.

Een troos wat sy dood oor my gebring het dat, en tot vandag toe, dat hy nie meer pyn ervaar nie. Dat hy tien teen een krieket speel met die engele daarbo. Dat hy grappies sal maak. Dat hy sy goedheid wys vir al die ander engele.

Een jaar later en ek sal hom nooit vergeet nie. My vriend, my kollega wat vir altyd onthou sal word vir wie hy was en die goedheid wat hy uitgedra het teenoor sy medemens. Mag hy vir altyd in vrede rus en mag hy nooit vergeet word nie.

Vir Jouself

Ek hoef nie eens te beskryf hoe 2019 vir my persoonlik was nie. En ek gaan dit nie weer beskryf nie. Ek gaan nie weer beskryf deur wat ek als was nie. Die stres, die hartseer, die ongelooflike baie trane, my gesondheid wat ‘n knou gekry het as gevolg van al die stres en hartseer, en ek wat soos in met die hele tyd moeg gevoel het so na aan die einde van die jaar, soveel so dat ek byna aan ‘n algehele uitputting gely het. Ek wil nie weer in daardie detail ingaan nie want dit is soos ek nou voel, agter my en dit moet so bly vir my onthalwe. Verlede jaar kon nie gouer verby gaan soos wat dit het nie. Nie dat als so sleg was nie. Daar het iets goeds daarvan gekom.

In September elke jaar gaan ek na die Kaaptadse maraton in Rondebosch, daar by die common wat bestaan uit ‘n oop stuk veld wat omtrent so 2.5KM ver is. Net so voor die maraton sal ek en my Pa rondom die common stap. Verlede jaar en die jaar voor dit was ek onkant betrap met die wind wat so sterk gewaai het, dat dit my asem weggewaai het. Gewoonlik is 2.5km redelik maklik vir my om te behaal, maar nie as ‘n Suid-Ooster so sterk waai dat jy byna op jou rug beland nie. Net hierdie deel was die begin van iets nuuts vir my.

Ek was, figuurlik gesproke, met my rug teen die muur na my labrador se skielike afsterwe. Als kon nie erger gegaan het as wat dit al klaar het nie. Dit was veilig om te sê dat my lewe baie leeg was. Ek was soggens so moeg ek kon skaars opstaan. Ek was saans so moeg gewees dat ek kon skaars my arms bo my kop hou. Dit is hoe dit gegaan het vir maande aanmekaar totdat my verlof begin het in Desember. Ek was emosioneel gedreineerd gewees. Ek het ‘n sterk front voorgehou oral waar ek kon. Op sosiale media en in mense se geselskap, maar dinge het maar sleg gegaan. Totdat ek iets gedoen het was dit als verander het, iets wat my aan die gang gehou het deur die moeilike tye waardeur ek was.

Ek het myself fiks gekry en aangehou oefen. Ek het my lewe in ‘n heel ander rigting ingeslaan en my doel was om aan Parkruns begin deel te neem. Ek het begin om my lewe op dreef te kry en dit in iets meer positiefs te kry.

Dit was net ‘n uitdaging, geïnspireer deur my pa, om te kyk hoe vêr ek myself kan dryf. Ek doen dit vir myself om weer daardie hoop te hê dat daar tog iets goeds is in my lewe. Ek het aangehou oefen en met elke oefen sessie, fikser geword. Ek het ook baie beter begin voel ook.

Ek het op Saterdag, 28 Desember 2019, aan my eerste Parkrun by Rondebosch Common deelgeneem en klaargemaak in ‘n tyd van 45 minute en 2 sekondes. Dit was ‘n lekker ervaring wat my gelukkig laat voel het vir die eerste keer in ‘n paar maande. Om myself weer in ‘n positiewe manier uit te daag om te sien hoe vêr ek kon kom.

Ek het gister aan my vierde Parkrun deelgeneem in ‘n tyd van 39 minute en 53 sekondes, my persoonlike beste tyd. Die bewolke en koel weer het beslis gehelp en was perfek gewees om te stap en hardloop wat ek later in die resies gedoen het. As ek nie my beste tyd gehaal het nie, sou ek weer probeer het met die volgende Parkrun. Die doel van dit als is dat jy aanhou moet probeer en nie so maklik moed opgee nie. En jouself te geniet om persoonlike beste tye probeer haal, ten spyte van wat als plaasvind.

Met al die negatiewe dinge wat plaasgevind het in my lewe verlede jaar, het ek een baie waardevolle les geleer uit dit als. En dit is om iets vir jouself te doen en niemand anders nie. Dit het ek gedoen sonder enige verskonings of verduidelikings aan enige iemand.

Ek het dit gedoen, net om te besef dat daar soveel mooi dinge is in die lewe om te ervaar as om vas te kyk in al die negatiewe aspekte van die lewe. Ek doen sulke dinge om byvoorbeeld fiks te word en aan Parkruns deel te neem om myself uit te daag en myself te lig en ‘n bietjie pret te hê daarby ook.

Al is jou omstandighede nie altyd maklik nie. Al vertrap mense jou drome en jou ambisie om iets in die lewe te bereik. Al is daar so baie negatiewe mense om jou wat glo jy kan niks bereik in die lewe nie. Doen dit ten minste vir jouself. Want jy skuld sulke negatiewe mense niks in die lewe nie.

Doen dinge vir jouself. Pak uitdagings aan vir jouself, want dit is net jy wat dit kan doen en dit is net jy wat iets in die lewe kan bereik, ten spyte van al die negatiewe dinge.

FB_IMG_15799484055899222
My vierde Parkun gister. Ek is die een in die blou top en grys broek, hard besig om my persoonlike beste te bereik. Foto: Rondebosch Commen Parkrun
IMG-20200104-WA0000-1
Net na my tweede Parkrun, Saterdag, 4 Januarie 2020

 

Dubbele Standaarde…

Is iets wat nie reg by my sit nie. Dit gebeur al vir baie jare en ek het dit tot meer onlangs gesien hoe een stel reëls gegeld het vir een party, maar ‘n ander party het net die spreekwoordelike slap on the wrist gekry. ‘n Uitstekende voorbeeld hiervan was die skorsing van die Protea krieketspeler Kasigo Rabada nadat hy Joe Root van Engeland uitgeboul het met ‘n briljante aflewering en die paaltjie met ywer en passie gevier het. Ek het die video van die insident oor en oor gekyk gister. Rabada het byna geen oogkontak met Root gemaak nie. Hy het nie Root ‘n “send off” gegee soos byna elke speler sal doen nie en laastens, het hy ook nie op Root gevloek en name genoem soos ‘n sekere meneertjie met ‘n vuil mond met die naam van Jos Butler nie.

En gepraat van die uwe, Jos Butler, wat so mooi, hard en baie duidelik op Vernon Philander gevloek het en hom name toegesnou het tydens die tweede toets op Nuweland, hy was maar net ‘n baie skamele 15% van sy wedstrydgeld beboet en toegelaat om in die derde toets te speel. Op sosiale media was die Internasionale Krieketraad skerp gekritiseer, maar ook geprys met die besluit om Rabada te skors. Vir my kom dit neer om een ding. Dubbele Standaarde. Daar word iemand geskors wat gedoen het wat byna elke bouler gedoen het; sy paaltjie met passie gevier. En dan sien ek iemand, van wie ek laasweek eers vir die eerste keer van gehoor het, vloek op ‘n legende wat sy laaste toets voor sy tuiskare gespeel het, letterlik daarmee weggekom het.

Hierdie hele storie het my laat wonder oor twee dinge. Hoekom ek hoegenaamd nog toetskrieket volg wanneer een span duidelike voordeel daaruit put om met oortredings weg te kom. En hoekom in die lewe geld een stel reëls vir een party, maar nie vir die ander party nie.

Dubbele standaarde gebeur letterlik orals as jy hard genoeg daaroor dink. In skole waar die bleeksiel of die nie-so-populêre kinders gestraf word met detensie wanneer hul hare miskien te lank is of die meisies se naels te lank is, maar die gewilde kinders word toegelaat dat hul hare oor hul krae van hul skoolhemde hang of hul naels lank is want hul Ma’s dien op een of ander raad. In die werksomgewing van basies enige maatskappy waar een werknemer laat is omdat Metrorail se trein vir drie ure tussen stasies gestaan het weens seinprobleme, maar die ander werknemer kom gedurig laat aan vir werk omdat hy of sy “iets by die bank” moes uitsorteer.

Dubbele standaarde gebeur ongelukkig in ‘n samelewing waar een of twee mense van rassisme beskuldig word, maar ‘n ander party kan daarmee wegkom, veral as jy in politiek is of as jy ‘n aktivis is en jy haat aanhits onder jou ondersteuners. Dubbele standaarde gebeur as jy jouself uitmaak as iemand wat vuis in die lug aankondig dat jy teen rassisme is, maar ‘n mens ondersteun wat soos byvoorbeeld sal sê dat swartmense argitekte van apartheid was.

Dubbele standaarde is wanneer jy luidkeels aankondig dat jy vir slagoffers baklei. Alle slagoffers volgens jou twitter profiel, maar tog op Facebook gaan en slagoffers van mishandeling te blameer deur om te sê dat “party vrouens will net luister nie” (sic). Sulke woorde sal nooit by my vergete wees in enige opsig nie, veral as iemand soos ek en duisende ander mans en vrouens baklei om die probleem van geweld teen vroue en kinders op te los en te beveg. Woorde soos daardie woorde is deel van die groot probleem en beslis nie deel van die oplossing nie.

Dubbele standaarde is wanneer jy teen alle moorde is, of jy maak dit duidelik op jou twitter profiel wat vir alle slagoffers baklei of jy probeer dit hard bewys aan jou familie dat jy teen moorde is, maar tog nie skaam sal wees om bankvas agter ‘n veroordeelde moordenaar te staan en sy slagoffer en haar familie op sosiale media sal swartsmeer nie. As ek dink aan die bogenoemde stelling, dan dink ek aan ‘n voormalige Olimpiese atleet wat sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013 vermoor het en 13 jaar tronkstraf gekry het.

Dubbele standaarde gebeur ook in ‘n kerkgebou waar jy “ja” en “amen” sal sê op elke liewe preek wat die dominee of pastoor sal aflewer en geld in ‘n kollekte sak sal ingooi. Dit is waar jy met toewyding elke teksvers sal lees en dit deeglik bestudeer en ‘n gebedjie na Bo sal opstuur met die hoop dat God jou sal vergewe omdat jy ‘n jong onskuldige vrou wat nuut is in die dorp beskinder het tydens Saterdag se kerkbasaar.  Of sodra die diens verby is, die karwag net buitekant die drankwinkel sal uitskel of die kassier by die Spar uitgluur omdat sy perongeluk vir jou die verkeerde kleingeld gegee het.

Dubbele standaarde is wanneer jy Christelike boodskappies of Bybelversies op jou sosiale media tydlyn los, maar op dieselfde tydlyn onskuldige mense en vreemdelinge met jou los vingers sal swartsmeer, beskuldig of slegsê omdat hulle die demokratiese reg het om ‘n effense ander denkwyse as jy te hê en bang is om daarvoor te staan nie.

Hierdie is net ‘n paar voorbeelde wat my soms warm onder die kraag sal los of my bloeddruk laat styg. Van die voorbeelde in die inskrywing het ongelukkig werklik gebeur of gebeur nogsteeds soos hierdie inskrywing nou verskyn. Ander is voorbeelde wat ek genoem het om my punt te maak, maar gebeur in die daaglikse gebeure van die lewe en die samelewing waarin ons almal woon.

Ek is geensins perfek om vinger te wys nie. Ek maak foute. Ek is maar net ‘n mens wat haar bes probeer. Ek raak te maklik ongeduldig. Ek raak omgekrap wanneer struikelblokke oor my pad kom en ek dadelik ‘n plan B en sommer ‘n plan C iewers moet uitkrap en saamstel. Ek haat hierdie vervlakste wind wat nou in die Kaap waai en my byna laat seerkry het toe ‘n deur byna my hand gevang het toe dit toegewaai het. Of wanneer kartonbokse vanuit nêrens teen jou vaswaai. Ek kan nie kook nie, nie eens ‘n dubbeldoor eier nie. Ek kan nie brei nie, nie eens ‘n ordentlike serp vir die winter nie. Ek het ‘n handskrif wat baie mense nie kan lees nie, somtyds kan ek nie uitmaak wat ek geskryf het nie. Ek vloek ook soms as ek baie groot skrik of as Eskom beurtkrag toepas.

Maar ek is net daardie iemand waar dinge net swart is, of net wit. Daar bestaan nie so iets soos grys areas nie. Dit is nie so maklik nie, maar ons almal kan sekerlik ‘n bietjie harde probeer. Mense is gou om hul stel reëls vir die wêreld neer te lê. Hul woord is wet en basta! Hulle vergeet gou dat drie terugwys. Dit is ‘n les wat ek in my kinderjare geleer het. ‘n Mens is gemaklik daarmee om hul reëls op ander neer te lê, maar tog kan daardie einste mense nie hul eie reëls nakom nie.

Mense is gou op hul slimfone om met hul los vingers beskuldigings op sosiale media te maak oor vreemdelinge, maar vergeet gou dat hulle skuldig is aan die dade waarvan hulle onskuldige mense beskuldig.

Dubbele standaarde hang ook soms af aan die geselskap wat jy hou. Dit kan goed wees of nie so goed nie. Maak net seker jy is in die regte geselskap in die lewe van areas waar dit net swart of net wit is, dan hoef daar absoluut geen grys areas in jou lewe te wees nie.

quote20200118191523

‘n Plek in die Wêreld

Ek het tydens my vakansie die film Breakthrough gekyk wat gebaseer is op die boek, The Impossible van Joyce Smith. Die verhaal speel af in Februarie 2015 in Missouri waar John, die aangenome seun, byna tragies verdrink in ‘n meer wat met ys bedek is en hoe Joyce, John se Ma, hard baklei en bid om hom aan die lewe te hou. Ek was baie diep geraak deur die Ma se innerlike krag en vasberadenheid om vir haar seun te veg. ‘n Ma sal enige iets doen om haar seun aan die lewe te hou maak nie saak hoe moeilik en onmoontlik dinge lyk nie.

Voor die tragedie het John gesukkel met sy identiteit nadat hy nie ‘n projek gedoen oor sy familie stamboom nie. John is gebore in Guatemala en was aangeneem deur Joyce en haar man toe hulle op ‘n sendingsreis gegaan het. John het nooit sy biologiese ouers geken nie. Ek kan eerlikwaar myself nie indink waardeur John moes gaan om heeltyd te wonder oor  waar presies hy vandaan kom en waar hy hoort in die wêreld, ten spyte van die onvoorwaardelike liefde wat hy ontvang van sy aangenome ouers nie.

Daardie deel van die film het my regop laat sit en oor baie dinge laat dink. Waar presies behoort ek in ‘n wêreld wat vol reëls en regulasies, termes en voorwaardes is? Waar hoort ek as mense gewillig is om jou, figuurlike gesproke, in ‘n boksie plaas van hul ideale en standaarde? Totdat ek net eendag sowat ‘n paar jaar gelede besef het dat hierdie einste mense daardie boksies vol van hul standaarde en verwagtinge kan vat en druk waar die son nie skyn nie. Want ek het net nie behoort in mense se wêreld van hul eie reëls en standaarde nie en het gedink dat dit dalk net beter sal wees om dinge alleen te doen.

Om byvoorbeeld uit te pluis presies wie ek is en hoekom daar wel ‘n plek is vir my in die wêreld waar reëls dalk opgestel is om getoets te word sonder om in die moeilikheid te beland. Waar my plek in hierdie wêreld is, is waar nie elke mens gaan inpas nie. Ek het vrede gemaak daarmee. Mense verskil. Ons is gemaak om uit te staan en nie in te pas nie. Mense is nie veronderstel om volgens ander se ideale te leef nie. God het nie ons so gemaak nie.

In my eerste inskrywing vanjaar, Dekade, het ek beskryf wie ek vandag is. Ek is eerstens ‘n Suid-Afrikaanse vrou. Ek is Afrikaans sprekend en is woonagtige in Kaapstad. Ek is ‘n dogter van wonderlike ouers. Ek is ‘n niggie, ‘n vriendin, ‘n suster en ‘n Tannie. Ek is ‘n blogger wat baklei vir mense wat minder het as ek. Ek is iemand wat nie bang is om Buite die Lyne in te kleur nie, net om daaroor te skryf. Ek sal beslis kan sê dat daar vir my in hierdie opsig ‘n plekkie in die wêreld is vir my.

Ek is geseend om al hierdie dinge te wees. My familie wat altyd eerste kom in my lewe. Ek het daardie voorreg om elke oggend wakker te word met lug in my longe, ‘n dak oor my kop en klere aan my lyf. Ek is baie bevoorreg dat ek elke aand kan gaan slaap in ‘n warm bed. Dit is die belangrikste fondasie van presies wie ek is vandag.

Daar is sekere aspekte van my wat my soms laat wonder ook waar ek inpas in die wêreld. Ek luister nie meer so baie na Afrikaanse musiek soos ek altyd het nie, maar dit maak van my nie minder Afrikaans nie. Ek lees boeke van Jodi Picoult tot Kristen Hannah tot Nicholas Evans, maar ek het ‘n Afrikaanse weergawe van Elsa Joubert se boek, Die Swerfjare van Poppie Nongena by Readers Warehouse gekoop. Ek sal ook interesante Suid-Afrikaanse boeke soos The Classifier van Wessel Ebersohn tot Beaten, but not Broken geskryf deur Vanessa Govender lees.

Alhoewel, ek is ‘n groot aanhanger van Afrikaanse films juis omdat die industrie daardie uniekheid het om die aandag van die wêreld te geniet. Ek het al films soos Kanarie, Johnny is nie dood nie en Verraaiers gesien, als stories wat ‘n unieke storie vertel en my laat dink hoe ons mense in die algemeen behandel.

Ek het al films soos Shawshank Redemptioin, The Help, Walk The Line, North Country en Room gesien, als films wat ook my laat dink het en laat regop sit het oor die jare heen. Ek het Bohemian Rhapsody al ‘n paar keer gesien, gebaseer op die lewe van Freddie Mercury en sy groep wat hul lewens toegewy het om uit te staan, hul lewens sonder enige verskonings en verduidelikings te leef. Die rock groep, Queen, wat hul die misfits van die wêreld laat voel het dat hulle behoort, deur om hulle te red deur middel van musiek.

Om eerlik te wees, daar is dae dat ek soos een van daardie misfits voel. Ek is Afrikaans, ja. Maar ek sien ook dinge van ‘n heeltemal ander perspektief af soos meeste mense. Ek glo vas almal verdien ‘n plekkie in die wêreld. Ek het al debatte op sosiale media gehad waar ek nie heeltemal welkom gevoel in mense se ideale van standaarde nie.

Ek het later besef dat dit nooit verkeerd is om jou eie mens te wees nie. Om absoluut uniek te wees en nie toe te gee wie presies jy is vandag nie omdat mense nie altyd tevrede sal wees met die eind-resultaat nie. Om nie bang te wees om op te staan en te baklei vir wat reg is nie. Om my lewe te leef sonder enige verduidelikings en verskonings vir enige mense nie.

Elke mens verskil. Elke mens het daardie reg om uniek te wees en nie bang te wees om dit weg te steek nie. My keuses van films en boeke mag dalk nie almal beïndruk nie, maar dit bly my keuses en myne alleen. Dit is eenvoudige beskrywings wat ek gee hier, maar hierdie beskrywings speel tog ‘n belangrike rol in wie ek is vandag.

My familie speel ‘n uiterse belangrike rol oor wie ek is vandag. Hulle het my geleer om mense met die nodige respek te behandel en almal gelyk te behandel. Hulle het my geleer om op te staan vir myself en vir myself te baklei.  Hulle het my geleer dat my plek in die wêreld vol uitdagings gaan wees, maar om die bul by die horings te pak.

Wat hartseer en tragies is in John se geval is dat daar so baie mense is wat nie weet waar hul plek in die wêreld is nie. Mense wat nie weet wie hul regte biologiese familie is nie. Mense wat deur God geskape is, maar voel hulle hoort nie op hierdie planeet nie. Dit is die tragedie omtrent John se lewenspad, maar ook in duisende mense se lewens.

Dit is juis hoekom dit belangrik is om jouself te omring deur mense wat jou laat voel jy behoort. Mense soos jou familie en vriende wat jou belangrik laat voel. Dit is meer van belang om te weet dat jy belangrik is in God se oë. Dat God mense oor jou pad geplaas het om jou te laat weet dat jy baie geliefd is en dat jy belangrik is, maak nie saak waar jy vandaan kom nie. Moeders soos Joyce Smith wat ‘n verskil maak in kinders, soos met John, se lewens.

Maak nie saak waar jy vandaan kom nie, jou plek in die wêreld is waar mense jou met die nodige liefde behandel. Jou plek in die wêreld is ‘n plek waar mense jou met die nodige respek behandel. Jou plek in die wêreld is waar jou familie is. Dit is waar jy behoort.

quote20200116204237

 

 

Oordeel kom te maklik

Om deesdae mense te oordeel, kom hopeloos te maklik want dit is die enigste manier dat hulle beter sal voel oor hulself en hul tekortkominge beter weg te steek. Mense oordeel te maklik sonder om werklik te weet wat presies aangaan in daardie mens se kop of hart.

Mense word geoordeel op hul kleredrag, die kos wat hulle elke dag eet, die boeke wat hulle lees, die flieks wat hulle kyk en die TV Reekse wat hulle op Netflix of Showmax volg. Mense word geoordeel met hul optrede teenoor ander mense. Hulle word geoordeel met woorde wat hulle spreek. Mense word geoordeel sodra hulle in ‘n gebou instap. Dit kan óf negatief wees óf positief, dit hang net af hoe jy daarna sal kyk.

Dit is soveel makliker om ander te oordeel op sosiale media wat bestaan uit baie groot netwerke en platforms van mense wat nie eens mekaar ken nie. Mense sal net aanneem dit is wie jy is met die woorde wat jy spreek of die fotos sal opsit wat ander laat regop sit, sonder dat hulle jou werklik ken en sonder dat hulle besef watter besluite jy moes neem om te kom waar jy vandag is.

Mense ken my net op sosiale media as iemand wat elke oggend mense ‘n lekker dag toewens met ‘n mooi aanhaling en inspirerende boodskap daarby. Dit is wie ek rêrig is. Ek glo daaraan dat ‘n klein gebaar altyd ‘n baie groot verskil in ander se lewens sal beteken. Ek groet die mense op sosiale media so, en sit mooi aanhalings en boddskappe op want ek weet daar is mense daar buite wat swaarkry in die lewe.

Ek is iemand wat baie selde fotos van my familie sal deel op sosiale media want ek voel baie sterk oor my familie se privaatheid en ek neem altyd daardie standpunt in deur om te sê dat mense nie alles van jou af hoef te weet nie, veral nie by watter restaurant jy jou jaarlikse ontbyt gehad het nie of waar jy was nie.

Ek is iemand wat soms ‘n mening of twee sal los op sosiale media platforms, maar ook vooraf sal dink of dit die regte ding is om te doen. Want daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles wanneer dit by woorde kom wat so ‘n groot impak kan hê in mense se lewens. Ek is beslis iemand wat nie bang is om op te staan vir mense wat al seergekry het nie. Of slagoffers van moord en verkragting nie want niemand het daardie reg om hulle te oordeel nie. Niemand nie.

Ongelukkig was ek al baie geoordeel op sosiale media, veral op twitter. Nie oor die klere wat my te maer laat lyk nie. Nie oor die boeke wat ek al gelees het of wil nog lees nie. Nie oor die films wat ek al gekyk het nie. Nie omdat ek Grey’s Anatomy op Showmax volg nie. Nie omdat ek ‘n suikertand het en die nuwe dekade al ingesien met ‘n bak Dairy Made Bar One roomys nie. Nie omdat ek baie trots was op my nuwe persoonlike rekord wat ek by die Parkrun wedloop oggestel het nie. Nie omdat ek baie gelukkig was toe ek vandag saam met my familie was nie. En nie omdat ek, ten spyte van al die moeilike uitdagings, nou op hierdie oomblik op ‘n baie goeie plek is in my lewe nie.

Ek was geoordeel omdat ek al slagoffers van misdaad geondersteun het en my ondersteuning gewys het vir ‘n familie wat al baie swaargekry het toe hul dogter vermoor was. En ten spyte van die oordeel, ondersteun ek hulle nogsteeds.

Ek het al dinge gelees van myself op sosiale media wat ek beslis kan sweer op die hoogste boek in die wêreld, nie waar is nie. Ek sal hierdie storie as een blatante leuen maak want daar is net geen manier in die hel dat ek ooit ‘n party sal ondersteun waar korrupsie hoogty sal vier en waar daar gesukkel word om daadwerklike oplossings te vind vir die misdaad en die Eskom krisis in die land nie.

Ek moes ongelukkig ook van myself lees dat ek iemand geboelie het wat ek ook sal sweer die grootste klomp snert is wat ek in my lewe al gelees het. Mense wat my al hul hele lewe lank ken weet ek is nie tot daartoe in staat om my tyd te mors en mense te teister nie. Ek het baie beter dinge om te doen in my lewe en om my lewe saam met my familie en vriende te geniet, is een van hulle.

Dit is ongelukkig baie waar wat ek sopas genoem het. Twee ideale voorbeelde waar mense dink hulle weet presies wie jy is, maar ongelukkig nie die ware storie after die gesig sien wat op my Twitter, Facebook of Instagram profiel verskyn nie.

Mense sal my opsom soos wat ek in hierdie inskrywing genoem het, maar gelukkig ken mense my baie beter as wat ek soms myself ken. Hulle weet wat ook al van my gesê word op sosiale media nie waar is nie. Daar is mense wat lief is vir my vir wie en wat ek is en trots is op my vir die mens wat ek vandag is en wat ek doen.

Oordeel kom hopeloos te maklik vir mense wat gereeld Christelike boodskappies sal opsit op hul sosiale media profiele. Hulle vergeet dan baie gou dat ons as mense nie ander mag oordeel nie. En dat oordeel net na God toe kom en niemand anders nie. Hulle vergeet ook gou dat God geensins slaap as mense leuens oor ander vertel of versprei nie.

Dit is dan altyd die beste vir jou om die waarheid te praat of as jy niks goeds het om te sê van die persoon nie, eerder stil te bly. Want hoe meer jy oordeel en hoe meer leuens jy vertel van mense wat jy nie eens ken nie, hoe slegter lyk jou karakter van buite af.

quote20200112165730