Die Nuutste Dit en Dat

Ek is net daardie persoon wat nie altyd verstaan waaroor mense so ‘n bohaai kan opskop oor soos byvoorbeeld die beste sokker span in die Engelse premier liga, of wat ook al dit genoem word nie. Of is dit die La Liga? Wat ook al hulle dit noem. Is Manchester United die beste span of is dit Liverpool? Help my verstaan asseblief.

Ek is nie ‘n groot aanhanger van Beyonce of Adele nie. Ek sal byvoorbeeld nou nie ten duurste betaal vir konsertkaartjies sou hulle beide by Kaapstad stadion optree nie. Alhoewel hulle beide goeie kunstenaars is en hul musiek vir my baie sin maak, sal ek nie eintlik die aand voor hul CD-vrystellings buitekant Musica slaap nie.

Ek volg nie die nuutste mode neigings nie. Jy sal my amper nooit dood kry in ‘n kitten heel of enige ander hoë hak skoen wat Woolworths in hul vertoonvenster ten duurste adverteer nie. Julle sal in elkgeval julself doodlag as julle moet sien hoe loop ek in hoë hak skoene, dit is nou te sê as ek daarin kan loop. Ek sal nie oor my voete val om daardie Gucci handsak te koop wat jy met jou hele salaris betaal nie. Ek lees ook nie tydskrifte om te verstaan watter diëet die beste vir jou gewig en lengte werk nie, as daar nou ooit so iets bestaan.

En as iemand my ooit vra of ek al die episodes van Game of Thrones gekyk het sal my antwoord hulle tot in hul diepste siel skok want ek het en sal ook nooit die reeks volg nie. Ek weet mense sal sê dat ek uitgemis het op diè beste reeks wat op Moeder aarde gemaak is, maar ek gee regtig nie om nie want ek verkies om Netflix reekse te volg, flieks te kyk en ‘n 600-bladsy boek te lees wat ‘n bietjie meer realisties lyk as ‘n populêre reeks.

Ek is ‘n aanhanger van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek, maar ek is nie eintlik Steve Hofmeyr se grootste aanhanger nie. Die man maak goeie musiek, maar dit is waar dit sal eindig vir my as mens. En vir my is dit nie die einde van die wêreld as ek ‘n aanhanger is van hom nie. Daar is net so baie goeie Afrikaanse kunstenaars in Suid-Afrika, soos Jo Black byvoorbeeld.

Jy sien, ek het my eie smake. Ek hou van die dinge waarvan ek hou soos om boeke te koop en baie te lees, of ek is eerder ‘n persoon wat eerder rugby sal kyk as om ‘n romantiese komedie of Game of Thrones sal kyk. Of ek is net iemand wat die reëls van krieket beter verstaan as om te probeer verstaan hoekom die nuutste Revlon maskara so effektief is op vroue se wimpers.

Ek volg nie die nuutste neigings, of reekse, of modes, of die nuutste eetplanne wat al daardie “onnodige” vet van jou lyf sal afskud nie. Ek is wie ek is. Die persoon wat my eie flippen neigings volg van net uniek en vreemd wees aan die wêreld. Ek volg nie die nuutste sosiale media inskrywings van hierdie sogenaamde Afrikaanse sangers nie. Ek weet helfde van die tyd nie wat aangaan in die Engelse premier liga nie en ek verkies om eerder in ‘n broek, ‘n mooi toppie en tekkies in die strate van Kaapstad rond te loop as om met hierdie sogenaamde kitten hakke te loop wat veronderstel is om vorm aan jou bene te gee? Wie de hel weet?

Ek hou van myself soos ek is. Dit is presies wie ek is. Ek het nie nodig om die nuutste neigings te volg om gelukkig te wees nie. Want as ek moes, sou ek ‘n vreemdeling vir myself gewees het.

Advertisements

As Musiek Begin Speel….

Dan is ek heeltemal in ‘n wêreld waar ek vergeet van my probleme en besef dat ek op die ou einde okay gaan wees. Daar is niks so lekker as om musiek te luister as ek oppad huistoe is na ‘n dag by die werk nie. Of om soos byvoorbeeld oor ‘n naweek my oorfone aan te hê en die rustige musiek maak my vergeet hoe hard en moeilik die lewe kan wees. Musiek maak net als okay in die wêreld.

Tydens my kinderjare het my ouers altyd ABBA en Neil Diamond geluister en ek moes noodgedwonge maar saam luister as ons almal oppad iewers heen was. Tydens my tienerjare het ek altyd geluister na boybands soos Backstreet Boys, Westlife en N*SYNC en ek het altyd vir Britney Spears en Madonna bewonder. Ek was maar ‘n tiener gewees wat gedink het dat ek van beter geweet het, tot ek my twintiger jare bereik het.

In my twintigs was daar net ‘n algehele verandering in my smaak van musiek en rock kunstenaars soos The Wallflowers, Live, Jimmy Eat World en The Calling het die wêreld vir my laat oopgaan. Ek het oor naweke na 5FM geluister totdat hulle in 2004 hul musiek lys verander het om die jeugmark te bereik. Ek was baie ongelukkig daaroor. In daardie jare was internet nie so bekostigbaar soos was dit vandag is nie. In daardie jare was dit moeilik om musiek te stream soos wat dit vandag is en in daardie jare was slimfone nie so bekostigbaar soos wat dit vandag is nie. So my enigste hoop was maar CD’s wat ek by Musica gekoop het en as die radio goeie musiek gespeel het, was dit ‘n bonus gewees.

My liefde vir Afrikaanse musiek het eers heelwat later begin met ‘n Afrikaanse radio stasie in Kaapstad begin was en nogsteeds bestaan. Maar voor dit was ek ‘n aanhanger van Karen Zoid en is vandag nogsteeds ‘n aanhanger van haar musiek. Ek het ook deur daardie fase gegaan waar ek na kunstenaars soos Zoid en Avril Lavigne geluister het, ten sptyte van die snaakse kyke wat ek van my familie ontvang het daardie tyd.

Die musiek wat vandag oor radios gespeel word se standaarde het wêreldwyd lelik geval. Daar is goeie kunstenaars, maar vandag sukkel ek om te verstaan hoekom radio stasies musiek speel waar die kunstenaar se lirieke nie altyd sin maak nie. Of soms sal ek sukkel om te verstaan hoe op dees aarde hierdie sogenaamde kunstenaar ‘n kontrak gekry het en dit terwyl daar so baie talentvolle kunstenaars op straathoeke staan en sing en nie die kans kry wat hy of sy verdien nie.

Vir my gaan musiek soms oor die lirieke waar vir my baie beteken as die musiek self. Soms moet die lirieke met my praat om my te laat besef dat daardie probleem wat oor my kop hang nie altyd die einde van die wêreld is nie. Of ek luister net bloot musiek om net rustig te raak na ‘n baie besige dag by die werk.

Vandag kan ek sê dank die Vader vir internet. En slimfone en google play en wat ook al moderne tegnologie aanbied want sonder dit was my wêreld ‘n plek waar ek na die radio moes luister om die stilte te verbreek en hoop dat hulle net goeie, kwaliteit musiek sal hoor. Maar ek kan net bly hoop meeste van die tyd. Of net my radio geheel en al aflos.

Op ‘n goeie dag soos vandag sal ek na kunstenaars soos Peter Bradley Adams, Crystal Bowersox, Jordan Brooker, Jo Black, Twee, Karen Zoid en Sheryl Crow luister. Baie van die kunstenaars wat hier genoem is se musiek word nie eintlik op radio stasies gespeel nie. Ander kunstenaars soos Karen Zoid en Jo Black se musiek word wel op radio stasies gespeel.

As ek my oorfone aansit en musiek hoor wat ek wil hoor, en nie wat die radio stasies dink ek wil hoor nie, is ek op my gelukkigste want dit is hierdie soort musiek wat my wegvoer na ‘n heel ander wêreld waar ek net kan vergeet van die probleme wat die lewe bring. En dit is goed en spesiaal genoeg.

Wees Jonk en Wees Jouself

Jeugdag. ‘n Dag spesiaal opgedra aan die jong mense van Suid-Afrika. Die dag wat opgedra is aan diè wat baklei het vir ‘n ordentlike bestaan in Suid-Afrika. Die dag wat opgedra is aan die 176 studente wat in 1976 in Soweto gesterf het vir vryheid. Hierdie dag is vir die kinders en jong mense en die geleentheid om hul jeug te vier en dit te geniet.

Die jeug van vandag het die potensiaal om hul drome na te jaag en te wees wat hulle wil wees. Ongelukkig in ‘n land waar misdaad hoog is, die werksgeleenthede skaars is en versoekings hoog is, is dit nie altyd moontlik nie. Die jeug van vandag het soveel uitdagings wat hulle in die gesig staar, dit is hartseer om te sien dat hulle versoekings nie kan weerstaan nie en deur die krake glip.

Ek is een van die gelukkiges. Ek is nou in my dertigs. Ek het ‘n werk. Ek het geleenthede tot my beskikking en die keuse om ‘n verskil te kan maak. Of my lewe in ‘n rigting in te stuur waar ek dit wil stuur. Dit is als in my hande om dit te laat werk. Nie alle mense is so gelukkig nie, veral nie die jongmense nie. Baie van die jeug verval in die slaggate van dwelms en misdaad weens ‘n gebrek aan leiding en rolmodelle. Die fliek, Courageous wat deur die Kendrick Broers gemaak is, toonbeeld die onderwerp oor gebrek aan vaderskap briljant uit. Van ons jongmense moet ongelukkig grootword sonder die leiding van hul vader of moeder, of beide ouers, veral hier in Suid-Afrika, wat baie hartseer is. Die potensiaal om te wees wat jy wil wees as jongmens verdwyn soos mis voor die son. Nie alle jongmense val in die slaggate daar buite nie. Daar is hoop as ek lees van tieners wat hard werk om hul drome na te jaag, ten spyte van hul omstandighede.

Ons almal was al daar. Ons almal was tieners. Ons almal het rebels teenoor ons ouers opgetree in een of ander stadium in ons lewens, of dit nou om uit te gaan om te gaan sokkie of skelmpies om daardie hoekie te gaan rook. Daar was ‘n rebel in almal van ons want niemand is perfek nie.

Ek was daardie tiener gewees wat redelik okay op skool gedoen het, maar my ouers baie trots gemaak het toe ek matriek geslaag het. Ek was maar net iemand wat nie eintlik so akademies so goed was soos my ouer suster nie, maar baie hard probeer om te presteer in vakke waarin ek goed was. Ek kan net onthou hoe ek dit absoluut gehaat het om vir ure en ure aaneen my neus in ‘n biologie handboek te hê en feite in te pomp in my kop het dat ek nie kon wag om klaar te maak met die eksamens nie.

Ek was mal daaroor om met my skoolmaats tydens pouses te spandeer, maar ek kon nie wag om met Hoërskool klaar te maak nie. Ek, soos met elke liewe tiener op die planeet het hoërskool gehaat. Ek wou eerder my tyd spandeer om elke tweede week die TV-Plus te koop net om uit te wil weet wat in 7de Laan gebeur, of wat Joey en Pacey als aanvang in Dawson’s Creek.

Ek wou meer gedroom oor boybands soos die Backstreet Boys en Westlife as om werklikhede na te jaag en myself te bekommer oor my toekoms na skool. Ek het meer dagdrome gedroom tydens klasse as om op te let hoe die basiese reëls van besigheid werk in Bedryfsekonomie. Dit is hoe ek was. Ek was meer iemand vir praktiese metodes en is nogsteeds vandag.

Ek was nie eintlik so gewild op skool nie. Maar ek het dit okay gevind want ek het geweet dat sou ek wees, sou ek ‘n toppunt van bespreking en skinder gewees het en moes ander se jaloesie verduur. Ek het nie die nuutste trends in ‘n tienertydskrif gelees nie, of die nuutste grimering by ‘n goedkoop winkel gekoop om te dra na skool nie. Ek het my eie styl eerder gevolg en ja, ek doen dit nogsteeds vandag. My liewe hemel, ek het nie eens ‘n selfoon gehad op skool nie en het dit nogsteeds oorleef.

Ek het my oë dakwaarts gerol vir my ouers se raad en advies, maar jare later besef hulle was en is nogsteeds reg. Hulle is altyd reg. Ek is vandag baie dankbaar dat hulle my grootgemaak het soos wat hulle het. Ek was nooit in ‘n situasie waar versoekings so groot was dat ek daarvoor geval het nie. Ek was hardkoppig gewees as tiener, maar my ouers was geduldig en liefdevol.

My raad aan vandag se jeug is jou ouers is daar om jou te lei. Hulle is jou steunpillare, jou rotse. Hulle is daar vir jou. Hulle is onvoorwaardelik lief vir jou. Altyd. Waardeer dit altyd en wees dankbaar dat jy hulle het. Daar is tieners wat sonder hul ouers sit. Luister na hulle….altyd.

My woorde aan hulle is wees jouself. Altyd. Moenie altyd die nuutste neigings volg om gewild te probeer wees of in te pas in daardie groepie wat als het in die lewe wat jy begeer nie. Dit is okay om nie die gewilde leerling te wees nie en net jouself te wees nie. Dit is okay as jy eerder daardie dik boek op ‘n Vrydagaand te lees as om na die trendy club toe te gaan, net omdat ander tieners daarnatoe gaan. Ek lees ‘n Jodi Picoult boek of volg ‘n reeks op Netflix elke Vrydagaand, glo my vry die wêreld sal nie vergaan nie.

Dit is okay om nie daardie Revlon lipstiffie te koop wat jou vriendin dra nie. Dit is heel okay om nie grimering te dra nie. Ek dra amper nooit grimering nie en dit is heel cool met my ook. Dit is nie die einde van die wêreld as jy nie daardie Levi jean kan bekostig wat by Mr. Price se vertoonvenster hang nie. Ontdek eerder jou eie styl as om iemand anders se styl en modes te volg.

Wees net jouself. Ontdek wie jy werklik is. Staan op vir jouself as mense heeltyd neersien op jou, maar doen dit met intergiteit. Moenie bang wees om op te staan vir diè wat te bang is dat die mensdom teen hulle gaan draai. Hulle het jou nodig om dit te doen. Wees vreesloos om buite die lyne in te kleur en ‘n verskil in die lewe te maak. Jy hoef nie die gewildste persoon te wees nie, maar maak daardie impak sodat die mense wat belangstel, sal luister na jou en respek hê vir jou.

Respekteer alle rasse, kulture en gelowe. Staan op vir hulle wanneer daar mense is wat neersien op hulle want glo my, mense is genadeloos wanneer dit by die drie termes kom. Maar op die einde van die dag, wees lief vir jouself en wees jouself, want die regte mense baie van jou hou. En dit is al wat op die ou einde van die dag sal saakmaak.

Sondag ~ 26 Mei 2019

Joernaal

Dit is Sondag. ‘n Dag van net rustig wees en Gilmore Girls kyk op Netflix. Dit is ook amper twee weke na my operasie en ek is goed oppad na herstel, iets wat nie eintlik so maklik was soos wat ek eers gedink het sal wees nie. Stel dit so, ek voel heelwat beter as wat ek ‘n week gevoel het nadat ek vir dae aaneen op onsoliede kos geleef het en baie geslaap het as gevolg van die swaar medikasie.

Die aand van die operasie was ek ontslaan en my ouers het my huistoe geneem en vir my gesorg. Ek was baie moeg as gevolg van die verdowingsmiddel en al wat ek wou gedoen het was om in die bed te klim. In die bed het ek my foon uitgehaal en Gilmore Girls gekyk. Vir een of ander rede kon ek glad nie daardie aand slaap nie.

Donderdag en…

View original post 303 more words

Hospitaal Tyd

Ek kan basies hierdie inskrywing begin deur om te sê ek haat hospitale. Ek haat die reuk van medisynes wat deur my neusholtes opkruip en ek haat die ellendige lang gange waardeur ek moet stap as ek ‘n pasient besoek. Dit is niemand se gunsteling plek om uit te hang vir koek en tee nie. En dit is beslis nie my gunsteling plek nie. Ek het ‘n bewondering vir diè wat gereeld na ‘n hospitaal moet gaan vir mediese behandelinge en pasiënte wat daar bly vir maande aaneen.

Ongelukkig moes ek na die plek gaan wat ek nie eintlik toe wil na gaan nie. Die hospitaal. Of meer spesifiek, The Tokai Medical and Dental Centre in die Kaap. Ek moes vir ‘n operasie gaan om al vier my verstandtande te laat verwyder omdat hulle probleme gegee het die afgelope vier maande. Die tande wat onder gesit het was reg op my senuwees geleë en die tande wat bo gesit het, baie naby my sinusse. Dit het infeksie in my tandvleis veroorsaak en moes verwyder word.

Ek gaan my inskrywing nou vat reg van die begin af. Aan die einde van Januarie het my onderkaak aan my regte kant aanhoudend gepyn met my een verstandtand wat besig was om deur my tandvleis te kom. Die pyn was later so erg ek kon skaars my mond oopmaak of ordentlike woorde uitspreek. Op Vrydag, 1 Februarie 2019 het ek ‘n afspraak gehad by die tandarts en die x-strale het vir my die nuus gegee waarop ek nie eintlik gehoop het nie. Al vier my verstandtande moet verwyder word onder algemene verdowing.

Die tandarts het my verwys na ‘n chirurg by Constantiaberg Medi-Clinic en ek moes bel vir ‘n afspraak daar. Ek kon op daardie oomblik myself nie bekommer oor mediese onkostes nie want my verstandtande moes getrek word. Ek kon eers ‘n afspraak kry Donderdag, 21 Februarie en het daardie dag af geneem by die werk om Dr. Allie Mohamed te sien. Hy het vir my presies verduidelik hoe presies hulle my tande gaan verwyder tydens ‘n konsultasie.

Aanvanklik was my operasie geskeduleer vir Maandag, 1 April 2019, by Constantiaberg Mediclinic, maar weens administratiewe probleme moes ek ongelukkig my operasie uitstel en skuif na Woensdag, 15 Mei 2019 by die Tokai Medical and Dental Centre toe. So ek moes nog langer wag, maar dit het my meer tyd gegee om my sake uitgesorteer te kry voor die operasie.

Woensdagoggend was ek nie heeltemaal op my senuwees soos ek gedink het ek sou wees nie. Ek was verbasend baie kalm gewees toe ek aangemeld het by die hospitaal. Die vriendelike saalsuster was baie behulpsaam gewees met die vorms wat ek moes invul en die bloeddruk wat sy geneem het voor die operasie.

My baie bekommerde Ma en Pa het my afgesien by die hospitaal en het huistoe gegaan. Ek het myself besig gehou deur om tydskrifte te lees en boodskappe te stuur op my foon toe Dr. Mohamed aangekom het. Ek het ook gehoor dat ek eerste op die lys was. Ek was op ‘n manier heel tevrede daarmee, maar my senuwees het aan my begin knaag.
Dinge het so vinnig gebeur toe ek my oë uitvee, het die teater suster en die narkotiseur se assistant my na die teater toe gehelp het. Ek het daar gelê en met die narkotiseur gesels oor my werk. Hy het vir my gesê om nie te kyk hoe hy die drip se naald in my hand insit nie, waarna ek gespot het en gesê het dat ek nogals honger is vanmiddag…

En dit was die laaste ding wat ek kon onthou voordat ek weer wakker geword het. Eers het ek geen idee gehad hoe ek beland het in die gewone saal nie, want ek het vyf minute terug nog met die narkotiseur gesels. My brein het basies geweier om te registreer waar presies ek was in daardie tyd. Als was net so baie deurmekaar op daardie oomblik.

Dr. Mohamed het later ingekom en met my gesels. Hy het gesê als het goed afgeloop tydens die operasie, wat vir my ‘n groot verligting was. Ek het met daardie vrese gesit dat ek met probleme met my kakebeen sou gesit het en dat ek probleme met my spraak sou gehad het, maar ek kon duidelik praat na die operasie, so dit was goeie nuus.
Ek was eers later daardie middag ontslaan en het die vriendelike susters bedank vir al hul hulp. As gevolg van die verdowing was ek ‘n bietjie van balans af en baie moeg gewees. By die huis het ek dadelik in die bed geklim en Gilmore Girls op Netflix gekyk, met ‘n yspak om my kop. Ek het toe al besef dat my operasie verby is en dat ek nie hoef bekommerd te wees oor dit nie.

Mense se verstandtande word gewoonlik verywder in hul 20’s. Myne was net ‘n bietjie later verwyder op die ouderdom van 37 jaar oud, wat ook volgens die doktors baie normaal is. Ek het baie pyn verwag, maar die pyn het eintlik nooit gekom nie, wat eintlik verbasend is want die tande het baie diep in my tandvleis gesit. Al hoe ek gevoel het was ongemak en my onderkaak wat net effens styf en geswel was.

Die dag na die operasie het ek die hele dag omtrent geslaap weens die medikasie, asook Vrydag. Ek het Saterdag nie so lekker gevoel nie, maar het baie water gedrink en meer geëet en weer vroeg gaan slaap. Vandag voel ek ‘n bietjie baie beter en beweeg ‘n bietjie meer rond, alhoewel ek nog nie heeltemal uit die woud uit is nie. Die herstel proses is ‘n bietjie stadig as wat ek gedink het dit sal wees, maar ek kom daar.

Ek wil net vir die dokters, verpleegpersoneel en susters by Tokai Medical and Dental Centre hartlik bedank juis omdat hulle hierdie ervaring vir my baie makliker gemaak het en dat hulle vir my gerus kon laat voel oor die hele operasie. Mense in die mediese beroep kry nie altyd baie krediet nie, en ek wil hierdie inskrywing gebruik om dit te doen. Baie dankie vir als wat julle doen om ons gesond te kry.

Eina! Net na my operasie

Moeder Moeder

Dit is Moedersdag. ‘n Dag opgedra aan al die moeders wat hard werk om hul kinders die beste lewe te gee wat hulle kan. ‘n Huldeblyk aan alle Ma’s wat hul kinders grootmaak en hulle te lei om goeie besluite te maak in die lewe. ‘n Dag opgedra aan die moeders wat hul kinders onvoorwaardelik liefhet, ongeag hul foute. ‘n Dag opgedra aan vroue wat ander onder hul vlerk neem en hulle by te staan, lief te wees vir hulle asof hulle hul eie is en hulle te help wanneer dinge hulpeloos is.

Moeders is engele op aarde wanneer hulle hul arms om ons sit en ons te troos wanneer dit lewe swaar en moeilik raak. Moeders is ons helde omdat hulle so baie opofferings maak om vir ons die beste lewe te gee wat hulle kan gee. Moeders is geduldig wanneer ons hardkoppig en rebels is. Moeders is ons beste vriende wanneer ons saam kuier oor ‘n heerlike beker koffie en ‘n ontbyt by ‘n restaurant. Moeders is die beste raadgewers wanneer die lewe ons ‘n dwarsklap toedien. Sonder Moeders was ons almal niks in die lewe nie.

Gelukkige Moedersdag aan al die Mammas daar buite wat so hard werk en so baie opofferings gemaak het. Hierdie dag behoort net aan julle.

Ek wil net vir my ma hartlik bedank vir al die liefde, geduld en ondersteuning oor die jare heen. Sy is my held en ‘n engel wat vir my waardevolle lesse geleer het en so baie raad gegee het. Baie dankie daarvoor.

Kruisies en Merke

Ek was vanoggend vroeg wakker gewees. Gewoonlik op ‘n vakansiedag is ek lief daarvoor om later te slaap as gewoonlik, ‘n beker koffie te geniet, op sosiale media te gaan om te kyk wat aangaan en rustige musiek te luister. Maar nie vandag nie. Vandag moes ek, soos duisende ander Suid-Afeikaners, in ‘n ry staan by die stemlokaal en ons kruisies maak agter ‘n politieke party wat ons glo daardie verskil sal maak in Suid-Afrika. Ek wou dit gou agter die rug kry sodat ek rustig kan wees deur die dag, dalk ‘n fliek of twee kyk, ‘n reeks volg op Netflix en onder die duvet lê terwyl die reën val buite.

Ons was vroeg by die stemlokaal gewees want ons wou dit so gou as moontlik agter die rug kry. Dit was koud en nat gewees, en die idee van die duvet en ‘n beker koffie het so ideaal gewees. Ek en my ma het aan die gesels geraak met mense wat saam in die ry gestaan het. Ons het nie noodwendiglik oor die verkiesing gepraat nie, maar ook oor ander onderwerpe. Ek het vir ‘n paar minute gewag nadat my Ma eers ingegaan het om te stem. Tot nou toe het ek nog nie besluit vir watter party ek voor gaan stem nie.

Ek het nie baie tyd gehad om oor die verkiesing te dink nie. Ek was baie besig gewees met werk en voorbereidings vir my operasie volgende week om verstandtande te trek so daar was maar baie min tyd om aan die verkiesing te dink en my kruisie te trek. Al wat saakmaak vir my is dat ek gestem het vir die party wat ek dink ‘n verskil sal maak in Suid-Afrika en sy mense. Dit was nie ‘n maklike stem gewees nie, maar ek het vir die party gestem wat misdaad, korrupsie en swak dienste sal beveg en sal opstaan vir die Suid-Afrikaners wat nie baie het nie. Ek het my kruisies gemaak op die nasionale en die provinsiale briewe gemaak en ‘n merk op my linkerduim om dit te bewys. Soos met elke Suid-Afrikaner het ons fotos van ons gemerkte duime op sosiale media gesit en ander aangemoedig om hul kruisies te trek.

En om te dink dat daar ‘n tyd was dat ek nie my kruisies getrek het nie en merke op my linkerduim gehad het nie want op ‘n tyd wou ek nie gestem het in die verkiesings nie. Ek gaan dit toeskryf aan woede wat ek gedra het binne-in my na ‘n inbraak en die maande daarna. Ek was net kwaad vir alles en almal gewees in daardie tyd en het gevoel dat ek in die steek gelaat was deur als wat politiek was. Baie jare later het ek nogsteeds nie my kruisie gemaak nie. Ek wou net nie. Ten spyte van mense wat my gewaarsku het dat ‘n geen-stem ‘n stem is vir die regerende party. En ten spyte dat mense my gesê het dat ek nie eintlik die reg het om te kla oor watter gemors in Suid-Afrika plaasvind nie.

In 2014 het ek as kieser geregistreer. En in dieselfde jaar het ek vir die eerste keer gestem. En ook goed gevoel daaroor. Want met my stem het ek ‘n klein aandeel gehad om ‘n verskil te maak in die Weskaap. En dit was ook my bydrae om die regerende party uit die Weskaap te hou. Ek het gestem met die hoop dat daar ‘n verskil gemaak sou word in die Weskaap.

Destyds was ek baie jonk, in my twintigs en het nie tred gehou met politiek nie. Vir my het dit gevoel asof dit ‘n mors van tyd was om in lang rye te staan en te stem. Jongmense van vandag, en dit is nie almal van hulle nie, sien nie kans om te stem vir ‘n party wat ‘n verskil sal maak in hul toekoms nie. Hulle voel daar is nie ‘n toekoms in Suid-Afrika nie.

Dit is waar ek sal sê dat hulle juis daardie kruisies moet maak om hul toekoms te verseker en ons te help om ‘n baie beter toekoms vir die kinders van Suid-Afrika te verseker. Dit is nooit maklik om positief te voel Dit is nooit maklik om positief te voel as nuusblaaie vol is van berigte oor staatskaping, korrupsie, misdaad en die swak ekonomie. Nooit. Maar om vir die regte party te stem sal help om al hierdie negatiewe aspekte uit te roei.

Ek was ook jonk, hardkoppig, rebels en het eenvoudiglik nie belang gestel in politiek nie. Ek wou nie stem nie. Maar ek weet van beter vandag. Daar is kinders wie ons nodig het om die regte besluite te neem oor hul toekoms. Ek het ook laastens my kruisie gemaak vir my niggie wat ‘n baie beter toekoms verdien in Suid-Afrika.
As jy ‘n jong volwassene is en jy bly weg van die naaste stemlokaal, dink aan die kinders wat te jonk is om deel te neem aan die verkiesing en ‘n beter lewe verdien. Hulle het ons nodig.

Die merk op my linkerduim
Vanoggend oppad stemlokaal toe

Wense En Vrese

Ons is in ‘n tydperk van onsekerheid in Suid-Afrika en dit net so voor die verkiesing op Woensdag, 8 Mei 2019. Woensdag gaan duisende Suid-Afrikaners in lang rye wag om ons kruisie te trek agter die politieke party van ons keuse. Sommige van ons gaan met hoop in ons oë staan, ander mense gaan nou weer met groot onsekekerheid Woensdag staan en wag om die kruisie te trek. Ek gaan ook Woensdag my kruisie trek, maar ek is nou op hierdie oomblik nie seker vir wie ek gaan stem nie, maar wees rustig want die regerende party en daardie party in rooi is nie hoog bo aan my lysie van partye om voor te stem nie.

Maar ek is nie hier om my keuses te verduidelik nie. Ek het gister die nuutste uitgawes van die Huisgenoot gekoop. Op die voorblad is Steve Hofmeyr en ‘n opskrif wat heet “Herrie woed oor Steve se lied”. Saam op die voorblad is ‘n paar bekendes soos Snotkop, Shaleen Surtie-Richards en Liz Meiring, om ‘n paar te noem. In die artikel deel hierdie bekendes en nog meer hul wense, vrese en waarop hulle bou in Suid-Afrika. Dit maak sin om als dit te deel want dit is wat ons almal voel wat hard werk om Suid-Afrika te bou vir ieder en elk van ons. Wel, altans is dit my droom ook. En my wense.

En vandag het ek dit ook goed gedink om my wense en vrese te deel op hierdie blog en dit voor die verkiesing. Hierdie inskrywing is bloot net my persoonlike of semi-persoonlike gevoelens wat ek graag wil deel en dit spruit geensins uit die herrie wat ontstaan het onlangs oor daardie lied nie. Dit sal baie onregverdig teenoor my wees as mens om onder die indruk te wees dat die onsmaaklikhede wat nou tussen Steve Hofmeyr en Multi-Choice plaasvind, die inspirasie was vir hierdie inskrywing.

Ek het ‘n paar maande gelede ‘n inskrywing gedoen getitled Buite die Lyne wat gehandel oor basies gelykheid vir ieder en elke Suid-Afrikaner. Van my latere inskrywings het ook aan hierdie onderwerp geraak en is basies my wens vir Suid-Afrika. My wens is vir ons almal om gelyke geleenthede te kry en gebruik te maak daarvan om Suid-Afrika ‘n beter land vir ons almal te maak. Ek glo vas dat ons almal gelyk is in God se oë en dat ons almal ‘n regverdige kans in die lewe verdien.

Nog ‘n wens is respek en liefde mekaar en dat ons almal met mekaar oor die weg kan kom. Met respek en liefde kan ons almal Suid-Afrika ‘n beter plek maak vir ons almal. Ek glo dat vriendelikheid en respek niks kos nie en as ons almal kan saamwerk om dit te vermag.

En dit bring my by my vrese wat die feit is dat mense nogsteeds die verlede teen mekaar gebruik om hul frustrasies en woede uit te druk op wrede maniere en om woorde van haat en bitterheid teenoor mekaar te spreek, of dit nou in die media is, op regstreekse televisie uitsendings of op sosiale media. Mense moet hulself dit afvra. Is geweld en haat ooit die moeite werd om jou punt te maak? Daar is mense wat hulself skuldig maak daaraan en ek glo dat dit in die pad staan om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak vir ons almal.

Die verlede is agter ons almal en ongelukkig kan geen mens ‘n tydmasjien in die hande kry en dit verander nie. Ongelukkig is nie almal bereid om vorentoe te kyk wat voorlê en aan die toekoms te wil werk nie.

Dit is waar ek ook wil eintlik deel waarop ek graag wil bou. Die media is altyd so vol slegte nuus. Ons almal, en dit is ek inkluis, kla oor die misdaad, korrupsie, moord, hoë pryse van basiese benodighede soos kos, water en petrol vir ons motors, ons veiligheid as ons alleen in die donker is oppad werk toe of as ons alleen in ons huise is, en beurtkrag wat ons onlangs ondergekry het. Daar is basies niks om op te bou as daar gedurig negatiwiteit is nie.

Maar elke nou en dan lees ek van iemand wat ‘n positiewe en mooi daad vir iemand anders doen. Die media is darem bereid om te deel oor hoe mooi Suid-Afrika en sy mense is. Dit los ‘n warm gevoel binne in my as ek lees hoe ‘n onbekende held of heldin ‘n verskil in iemand se lewe maak. As ons almal so kan wees. As ons almal ‘n verskil in ander se lewe kan maak, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, sal Suid-Afrika ‘n beter plek vir ons almal wees.

Een positiewe en mooi daad vir ‘n ander mens gaan baie verder as al die negatiewe aspekte wat Suid-Afrika so onderkry. En dit is hoekom ek graag nuus vanuit ‘n positiewe oord op my self-getitelde Facebook blog deel wat dit is sulke nuus wat ons almal net daardie hoop gee en ons geloof in die mensdom herstel.

Die opkomende verkiesing gaan basies net bestaan uit politieke speelballe waar politici mense met beloftes gaan tevrede hou en partye mekaar gaan aanvat oor hierdie belofte en daardie belofte wat hulle so graag hul ondersteuners wil tevrede hou en hoop vir die beste. Maar op die ou einde van die dag begin dit als by jou en dit eindig by jou. Net jy alleen kan daardie verskil maak in die lewe van ander mense.

Ek weet nie wat presies gaan voorlê met hierdie verkiesing nie. Ek wens ek het geweet. Maar terwyl daar ‘n onsekerheid heers, maak solank die verskil in ander se lewens, want dit is wat jou ryker sal maak as ‘n politikus met beloftes wat jy nie kan vertrou nie.

Afrikaans

Afrikaans is die taal wat ek praat, skryf, lees, en nou ‘n inskrywing doen. Dit is my taal. Ek praat die taal by die huis en meeste van die tyd by die werk saam met my vriende en kollegas. Ek lees Afrikaans, luister Afrikaanse musiek en het ‘n groot versameling van Afrikaanse films. Hierdie taal is in my bloed en ek sal baie ver gaan om te sê dat ek nie skaam is op hierdie taal nie.

Ek het in ‘n Afrikaanse huis grootgeword. Ek het na Afrikaanse skole gegaan en geleer, geskryf en eksamen geskryf. Ek het in my volwasse lewe begin Afrikaanse musiek waardeer en in 2012 my eerste Afrikaanse DVD gekoop want ek het gedink oor waarop ek uitgemis het met al die internasionale flieks en musiek wat ek gekoop het as ‘n jong volwassene.

Ek waardeer Afrikaans as ‘n taal want sonder die taal was ek ‘n vreemdeling vir myself. Terwyl ek hierdie inskrywing doen, luister ek nou die musiek van Karen Zoid op my skootrekenaar wat interessant is want Chasing the Sun van dieselfde sanger was die eerste CD wat ek gekoop het wat Afrikaanse musiek opgehad het. Ek kan onthou hoe my suster met ‘n frons na my gekyk het terwyl ek as ‘n 21 jarigie, heelwaarskynlik onvolwasse, rebelse jong vrou na haar musiek geluister het. My versameling het gegroei van Karen Zoid tot Theuns Jordaan, Adam Tas, Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en vandag is ek mal oor Jo Black se musiek, asook Gian Groen, Die Tuindwergies en Klopjag se musiek.

Ek het ook vir die eerste keer besef dat die Afrikaanse film bedryf ‘n rare diamant is in die oë van die grote wêreld waarin ons woon toe ek my eerste paar Afrikaanse flieks begin versamel het. Hierdie bedryf is uniek in die sin van die woord dat soveel wonderlike en unieke stories vertel is vir Suid-Afrika en sy mense. Films wat onlangs vrygestel is soos Ellen, Kanarie, Stroomop en Vuil Wasgoed is net ‘n bewys dat hierdie film bedryf tot baie in staat is om te kan kompeteer met die res van die wêreld en veral met ‘n groot bedryf soos Hollywood. Noem my naïef in hierdie sin van die woord maar dit is waarin ek vas glo.

Om eerlik te wees, sonder ‘n Afrikaanse musiek bedryf en veral ‘n film en vermaak bedryf was daar nie juis iets waar Suid-Afrikaners, veral Afrikaans sprekendes soos ek, kon vasklou en bly hoop nie in die taal wat ons praat nie. As mense hierdie soort voorregte gaan ontneem of die oorsaak daarvan is dat dit van ons ontneem is, gaan die nuwe generasie nooit iets leer van die Afrikaner kultuur nie en sy unieke geskiedenis en agtergrond nie. Vermaaklikheids sterre en bekendes gaan basies sukkel om ‘n inkomste te verdien en produksiemaatskappye gaan vou, besighede soos sekuriteitsmaatskappye en spyseniers gaan sukkel om kop bo water te hou.

Dit is hoekom eintlik ons moet dankbaar wees dat kanale soos KykNet en VIA-TV bestaan want daardie twee kanale is omtrent die enigste kanale wat in Afrikaans uitsaai en die Afrikaanse gemeenskap vermaak, of dit nou in film, musiek of in televisie reekse is. Selfsugtige optredes gaan nie jou mede-Afrikaner help as jy sy of haar enigste manier van inkomste en leefwyse wil ruineer nie.

Ek glo die taal Afrikaans het daardie kans en almal het die reg om trots te voel daarop, maar nie selfsugtig te wees daaroor nie. Ek is Afrikaans sprekend, my redes is hierbo gegee oor hoekom die film en musiek bedryf so van belang is. Dit gaan nie net oor ‘n vaste inkomste vir die bekende sanger, akteur of aktrise nie. Vir my gaan dit oor wat ons die kinders van môre gaan leer in die vorm van film en musiek en vermaak oor die algemeen?

Wanneer Vrede Oorwin

Dit was verlede week en Sondag. Dit was Paasfees gewees. ‘n Tyd van vergifnis en vrede. ‘n Tyd van verlossing en tweede kanse. ‘n Tyd vir familie en vriende. Ek het myself daardie Sondagoggend in ‘n winkelsentrum bevind. Ek weet dit is nie die plek waar mense voorstel ek sal wees nie. Die eerste sin gaan oor Paasfees en ek was veronderstel om in daardie tyd in die Kerk te wees. Maar ek was in Checkers gewees besig om ‘n paar dringende items te koop, plus ietsie lekker vir die reeks wat ek volg op Netflix.

Maar ek was in Checkers. Ek het my beurt afgewag om te betaal vir my benodighede. Voor my staan ‘n bejaarde dame. Sy betaal vir haar items en bedank die kassier. Die kassier sê iets in haar eie taal en voordat ek dit nog kon besef het die bejaarde tannie in die kassier se taal haar bedank. Dit was ‘n oomblik waar ek verbaas gestaan het voordat ek vir my items betaal het. Daardie oomblik het ook ‘n warm gevoel binne in my gelos wetende dat daardie twee dames ‘n voorbeeld is van hoe mense mekaar moet behandel en hoe dinge moet verloop in Suid-Afrika, want soos Bouwer Bosch altyd sê: Liefde wen.

Minute later bevind ek myself net buitekant Checkers. Ek het op ‘n bankie gesit en gewag vir my ouers om klaar te maak. Ek het langs ‘n klein dogtertjie gesit. Ek het haar so 4 of 5 jaar oud geskat. Ek het na die dogtertjie gekyk en ek het na haar gekyk en vir haar geglimlag. Sy het skaam vir my geglimlag. Sy het verder na haar jonger broer toe gegaan om sy skoene uit te trek. Twee mense, van verskillende agtergronde, het vriendelik vir mekaar geglimlag asof die wêreld, of Suid-Afrika, nie in so ‘n groot gemors is as wat die media dit altyd uitbeeld nie.

Hierdie twee oomblikke bly nog tot vandag toe by my. Ek het gwonder hoekom ek juis moes winkels toe gaan om ‘n paar benodighede te kry, iets wat ek kon doen die volgende dag, en nie op Paas Sondag nie. Daar is altyd ‘n rede en altyd ‘n goeie rede daarby ook. Ek moes in daardie winkel wees om te sien dat die kleinste gebaar soos ‘n glimlag en ‘n groet, groot is in God se oë.

Ek het ‘n paar dae tevore, vanuit ‘n plek van frustrasie, my wense op Twitter uitgespreek dat mense in Suid-Afrika net met mekaar oor die weg moet kom en dit ter wille van vrede. Al wat ek kon sien wat mense wat met mekaar baklei en nie daartoe in staat is om ‘n gesonde debat te voer nie. Mense moet altyd mekaar diskrediteer om bo uit te kom. Mense moet altyd vinger wys omdat hulle altyd dink hulle is beter as die persoon wat langs hulle staan in ‘n ry in Checkers of Pick ‘n Pay. Mense moet altyd op mekaar neersien. Mense moet altyd ander afbreek en nie opbou nie. Dit is ongelukkig hoe die mensdom werk en watter teleurstelling is dit nie?

Genadiglik het ek gesien dat mense tog met mekaar oor die weg kan kom. Ek was bly om dit te sien en dat vrede altyd wen in die slegste van tye en omstandighede. Dit begin altyd by jou om ‘n hand uit te reik na ander. Dit begin atyd met ‘n glimlag vir ander mense. Dit begin altyd met ‘n vriendelike gebaar. En dit begin altyd dat mense in vrede met mekaar leef.

Dit is waar dit begin. Ek was nie perfek op daardie dag om nie in die kerk te wees nie. in plaas daarvan was ek in ‘n winkelsentrum besig om inkopies te doen. Maar aan die anderkant was ek bly dat ek op daardie oggend daar was om te sien dat die kleinste gebaar altyd by jou sal bly as die slegte nuus wat die koerante vol lê. Dit is wanneer vrede wen.