Mense Regte Dag

Soos ek nou regtig voel is dit nie mense regte dag nie, maar eerder net ‘n gewone vakansiedag. Ek voel aansienlik negatief oor hierdie dag en ja, soos ek nou hier skryf ervaar ek beurtkrag met die hoop dat my tablet se battery ten minste kan hou sodat ek kan skryf wat op my hart is.

Ek het ‘n inskrywing op 17 Maart 2019 oor Beurtkrag gedoen, maar dit het vanuit ‘n plek gekom waar ek eerder sarkasties gevoel het en gevoel het dat ek Eskom wil vloek van frustrasie totdat ek nie meer kan nie. Ek voel baie sterk om ‘n verandering in jou lewe en in Suid-Afrika te bring, moet jy jou krusie op 8 Mei 2019 trek by die politieke party wat jy voel die regte beskuite kan neem oor die toekoms van die land. En as ek bedoel die regte politieke party, bedoel ek beslis nie die ANC nie.

Ek het vanoggend wakker geword met beurtkrag. Ek het beduiweld opgestaan as gevolg daarvan en het al vloekend na my flitslig gesoek. Die ketel was nie gekook nie en ek kon nie eens my eerste beker koffie van die dag geniet nie. Wel, dit is Mense Regte Dag volgens my kalender op my lessenaar so hoe kan ek my basiese regte vier as ek heeltyd in die donker moet strompel sonder koffie in my lyf en op soeke na my flitslig?

Hoe kan elke Suid-Afrikaner Mense Regte Dag vier as daar basies geen basiese regte is vir ons nie? Sekerlik het ons die reg op eletrisiteit en om nie beurtkrag te ervaar elke twee tot drie ure van elke dag nie. Sekerlik is dit ons reg om veilig te voel in ons eie huise of waar ook al ons onsself mag bevind sonder om oor ons skouers te loer. Sekerlik het ons regte tot basiese gesondheidsdienste sonder om onsself te bekommer oor die stand van hospitale of oor ons finansies. Sekerlik elke kind in Suid-Afrika het die reg op basiese opvoeding om te verseker dat hulle ‘n goeie toekoms het. En sekerlik het ons die reg op ‘n publieke vervoerstelsel wat werk en nie ons drie ure later by ons bestemming kry nie.

Dit is basiese regte op stesels wat ‘n totale ramp is op alle fronte. Geen mens in Suid Afrika kan so leef nie, maar ongelukkig het niks verander nie. Alles bly maar dieselfde vir ons Suid-Afrikaners. Ons ervaar beurtkrag asof daar geen môre is nie. Ons basiese gesondheidsdienste en onderwysstelsels is in sy pekie. Ons publieke vervoerstelsel is byna nie-bestaande weens swak instandhoudingswerk. Maar die belangrikste van dit als, ons voel onveilig in ons eie huise met hoë mure om ons huise.

Ek kan beslis nie mense regte dag vier as ek in pik donkerte vir ‘n bus moet wag weens beurtkrag nie. Dit het my so weerloos laat voel toe ek heeltyd oor my skouer moes loer, maar nogsteeds weinig enige iets kon sien. Ek kan nie mense regte dag vier as ek onveilig in my eie huis voel nie. Ek kan nie mense regte dag vier as ek tydens beurtkrag moet soek na ‘n flitslig nie. Ek kan geensins mense regte dag vier as daar geen water loop uit die krane weens ‘n gebarste pyp in die buurt nie. Ek kan nie mense regte dag vier as ek ten duurste moet betaal vir kos en basiese benodighede nie.

Ek kan nie mense regte dag vier as ek in die nuus lees oor vermoorde vroue en kinders nie, want net gister was daar twee berigte van twee aparte gevalle waar ‘n vrou en kinders vermoor is nie. Want hul regte was net daar van hulle af geneem om te leef en hul lewe ten volle te leef, met die regering wat hard sukkel om moord en verkragting onder beheer te kry.

Elke mens het die reg om te leef. Elke mens van alle rasse en kulture verdien darem maar ‘n plekkie in die son. Geen mens verdien onderdrukking nie. En geen mens verdien om swak dienste of misdaad in Suid-Afrika te ervaar nie.

Soos ek in hierdie inskrywing genoem het, ek kan ongelukkig nie mense regte vier vandag nie. Soos ek ook genoem het, dit is nou beurtkrag hier by my en soos ek hierdie inskrywing nou doen, is daar nog beurtkrag oppad, volgens die app EskomSePush.

Al wat ek kan doen, want die keuse is op die ou einde van die dag myne, is om my kruisie te trek by die party wat ek voel die regte besluite sal neem oor my toekoms in hierdie land en nie besluite sal neem uit pure selfsug nie. Vandag was ons almal se regte maar ontneem om elektrisiteit te hê in Suid-Afrika, maar ons kan ons regte terugvat om die kruisie by die regte politieke party te maak op Woensdag, 8 Mei 2019.

Beurtkrag

Ek laai my foon, ek laai my tablet, ek laai my laptop, ek laai my powerbank, ek laai als wat ek moes laai behalwe my batterye vir menslike energie en krag want dit is alweer daardie tyd. Maak nie saak waar jy is of waar jy wegkruip nie, beurtkrag sal jou kry.
Beurtkrag. Die woordtjie wat mense rooi laat sien en op sosiale media vloek van frustrasie. Van fase twee tot vier binne ‘n paar kort ure laat mense vloek-vloek, skel-skel hul fone laai, hul yskaste en vrieskaste by die kragprop afsit en hul hare uit hul kop laat trek omdat hulle die krieket gaan mis tussen Suid Afrika en Sri Lanka. Moenie julself bekommer nie, want beurtkrag het sommer ook die wedstryd bygedam met een stukkende floodlight.

Beurtkrag het my ook laat vloek uit frustrasie. Ek het beslis nie teruggehou toe ek vir Eskom op twitter laat weet hoe presies ek oor hierdie simpel beurtkrag gevoel het nie. Ek het dalk sowat twee keer die F-Bom op hulle laat val, maar ook gevoel dat hulle dit beslis verdien want dit is nie Eskom wat my elektriese items in die huis gaan herstel nie, of ekstra geld uitgee op batterye vir my flitslig nie.

Maar aan die ligte kant is daar ook ‘n paar lekker eienskappe aan beurtkrag. Soos byvoorbeeld jy kan braai, jy kan ‘n lekker boek lees en tyd spandeer saam met jou familie, met hulle gesels oor die ditjies en datjies oor die lewe. Jy weet, ouderwetse dinge wat ons terugvat na die 1950’s voordat moderne tegnologie ontdek was. En voor Eskom se nonsens.

Maar aan die anderkant moet Eskom probeer om Suid-Afrikaners se frustrasies te verstaan, maar dan stoot hulle hul fase op na miskien fase 10 waar hulle beurtkrag gaan toepas op die son. Net om daarna ‘n sikloon te blameer. Arme Idai wonder dalk nogsteeds wat hy verkeerd gedoen het toe hy by Mosambiek aangeland het.

Ek is sat om omtrent elke aand in die donker te sit, ‘n episode van Binnelanders te mis of dalk om die beurtkrag tyd te werk om dinge klaar te kry. Ek kan dalk vir myself lag wanneer ek die lig skakelaar uit pure gewoonte tydens beurtkrag aansit, maar my frustrasie bly maar dieselfde.

Tikkie humor in donker tye – dankie aan Idees Vol Vrees vir hierdie woorde

Met als dit wat ons so in die donker los, wonder Suid-Afrikaners ooit oor agter wie se politieke party hulle hul kruisie gaan trek op 8 Mei vanjaar. Wel, dit gaan beslis nie agter die naam van die party wees wat nou hierdie land probeer regeer nie. En dit was nooit die geval gewees nie. Want al wat hulle reggekry het was om Suid-Afrikaners letterlik en figuurlik in die donker te laat sit. Oor alles van staatskaping tot beurtkrag. Van misdaad tot korrupsie. Van hoë kostes tot wel, um, beurtkrag.

Dit gee mense iets om oor na te dink. Wil jy heeltyd vloek-vloek, skel-skel op sosiale media gaan en Eskom vloek en skel omdat hulle jou liggies uitgesit het, of wil jy jou kruisie agter die regte party maak? Ek weet vir ‘n feit ek kan net soveel geld uitgee op Energizer batterye en hoop dat my Hi-fi of yskas nie die gees gaan gee nie.

Beurtkrag is Suid-Afrikaners se nuutste vloekwoord. Want elke keer as die liggies uitgaan, volg daar F-bomme op sosiale media of voor jou familie. Op 8 Mei 2019, sê “fok jou” vir Eskom deur om jou kruisie agter ‘n party te trek wat ‘n definitiewe verskil sal maak in Suid-Afrika. En vir jou. Dit is al wat dit sal vat om die mag weg te neem van al die vrot appels in hierdie land.

Sit Eskom se liggies vir hulle uit op 8 Mei 2019.

Liefde en Vrede

Aan al die haters in die wêreld. Dit is vir julle.

Ek was gister baie diep geraak deur die massa moorde in Christchurch deur ‘n terroris. Ja, julle het reggelees. Ek het die verdagte wat al die hartseer veroorsaak het ‘n terroris genoem want dit is presies wat hy is. Ek was diep, baie diep geraak deur die feit dat onskuldige mense vermoor is net omdat hulle hul menslike reg gehad het om hul geloof te dien en uit te leef. Die feit dat onskuldige kinders die prys moes betaal en dit deur ‘n terroris se blatante haat het my baie diep geraak.

Ek wil net graag een ding by dié weet wat dink om mense te haat vir wie hulle is en watter geloof hulle dien, hoe slaap julle saans? Hou die haat en bitterheid wat julle so diep in julle harte bêre nie saans wakker nie? Ek weet net een ding en dit is dat die haat wat julle in jul harte dra nie van julle beter mense maak nie. Glad nie.

Julle kan so baie goeie dinge doen en dit op sosiale media opsit, maar die haat wat julle koester gaan julle geensins beter mense maak nie. Julle kan fotos van jul familie en vriende wys aan die sosiale media en wys dat jy familievas is of jou vriendskappe koester, maar as jy haat betoon teenoor mense wat durfwaag nie soos jy is nie, dan maak die nie van jou ‘n goeie mens nie. Jy kan duurste grimering in die wêreld koop by Clicks, maar grimering kan jou ongelukkig nie mooi maak van binne af nie.

Jy kan voor in die Kerk sit met ‘n Bybel onder die arm, bid dat God jou moet vergewe vir al die sondes, maar as jy ‘n geloof of ‘n persoon haat, dan is jy maar net eenvoudigliklik gestel, skynheilig. Voor my oë en voor die oë van mense wat dwarsdeur jou sien vir wie en wat jy is.

Jy kan luidkeels in die publiek of op sosiale media aankondig dat jy ‘n ernstige misdaad of ‘n terroriste aanval veroordeel, maar as jy bewondering het vir ‘n ikoon of ‘n wêreldleier wat leef op haat vir ‘n ander geloof of ras, dan beteken jou woorde en aksies ook maar niks.

Dit is mense soos julle wat die paaie van Liefde en Vrede bemoeilik. Ek glo vas dat elke mens deur God gemaak is en dat elke mens liefde, respek en baie vrede verdien en nie gehaat moet word oor sy geloof of sy ras nie. Die nuus moet ongelukkig aan al die haters gebreek word dat ons almal presies dieselfde van binne is, net jammer sien julle net die uiterlike raak en haat wat julle sien.

En as jy nou rêrig dink jy praat namens my, moet tog nie asseblief nie jouself flous nie, want elke mens van elke ras en kultuur verdien ‘n plekkie in die son. En as jy gister se aksies deur die terroris gaan regverdig en verskonings soek vir sy dade, gaan ek jou net daar stop. Want as kinders seergekry het en gesterf het, dan kan geen verskoning of rede waarmee jy gaan opkom dit ooit in die lewe regverdig nie. En dan is jy geensins ‘n beter mens nie.

Probeer om net met ‘n bietjie liefde en respek vir mense wat ander is as jy te leef. Toe, probeer dit vir ‘n verandering. Want dit gaan ‘n baie ver pad. Want jy kan net haat en bitterheid in jou hart toelaat as jy dit met beide arms omhels. Niemand is gebore met haat in hul harte nie. Ongelukkig is dit aangeleer.

En ongelukkig vir al die haters, is dit oninspirerend vir ander mense as jy heeltyd haat versprei waar ook al jy jouself bevind.

Iets wat in 2017 gesê was op Twitter

People-pleasing. Stop it!

THE VOICE BLOG

I found an article on Psychology Today called, “10 Signs You’re a People-Pleaser.” If you can identify with a few of these, it’s probably worth your time to keep reading!

  1. You pretend to agree with everyone.
  2. You feel responsible for how other people feel.
  3. You apologize often.
  4. You feel burdened by the things you have to do.
  5. You can’t say no.
  6. You feel uncomfortable if someone is angry at you.
  7. You act like the people around you.
  8. You need praise to feel good.
  9. You go to great lengths to avoid conflict.
  10. You don’t admit when your feelings are hurt.

Most professionals (and amateurs) agree that people-pleasing is an unhealthy habit and almost always a self-worth issue. Being kind is not the same thing as being a people-pleaser. This way of life is usually learned at a young age and by the time you’re old enough to be self-actualizing, it’s as…

View original post 1,079 more words

Boksies

Wees jouself. Altyd. Dit is die raad wat baie mense uitdeel aan ander. Wees net jouself van God het jou uniek gemaak. Soveel van dit is baie waar. God het jou en elke mens op hierdie planeet uniek gemaak. Ongelukkig is dit maar ‘n teleurstelling om te sien dat mense verwagtinge van hul medemense skep, al sê hulle so baie kere vir daardie mense om hulself te wees want die regte mense sal lief wees vir hulle, reg?

Want jy gaan as mens tog geoordeel word as jy jou ware self is. Soos byvoorbeeld daardie Mr. Price toppie wat te styf is, of daardie tattoo op jou arm wat van jou ‘n duiwel maak, of dalk miskien is dit die smaak van die musiek wat jy luister of die boeke wat jy lees. Of dit is dalk jou persoonlikheid of die feit dat jy ‘n ekstrovert is. Maak nie saak wie jy is of hoe jy jou lewe leef nie, jy gaan tog geoordeel word want mense meet jou aan hul standaarde.

Ek dink baie die afgelope twee dae aan standaarde van die samelewing. Wat mense van my verwag as mens. Ek was Sondagaand by ‘n toekenningsaand in Kaapstad. Dit was ‘n bietjie op die nippertjie vir my so ek moes omtrent buite die boks dink toe dit kom by wat ek gaan aantrek by so ‘n glansryke geleentheid. Sulke aande laat altyd my senuwees knaag want ek weet nie noodwendiglik wat goed genoeg is nie.

Ek het besluit op ‘n broek, ‘n baie mooi geblomde top en skoene. Ongelukkig kon ek nie hoë hak skoene dra nie want ek het my enkel liggies seergemaak die vorige dag. Onder daardie omstandighede het ek heel mooi gelyk, en so het vele vroue wat ook mooi broekpakke gedra het in plaas van aandrokke. So ek het darem nie heeltemal alleen gevoel daardie aand in die uitrusting departement.

Maar soms sal daar altyd daardie een of miskien twee wees wat wonder hoekom ek nie rokke dra nie. Laat ek dit so stel. Ek het in 2016 laas ‘n lang rok gedra met my suster se troue en nooit weer daarna nie. Dit is nie omdat ek my naam so byna met ‘n plank geslaan toe ek amper voor die kansel geval het nie. Dit is as ek ‘n rok onder enige omstandighede dra, sal ek nooit gemaklik voel of regtig myself wees nie. Ek sal basies ‘n vreemdeling vir myself wees.

Dit is een van die voorbeelde hoekom ek my eie standaarde het wanneer dit kom by sulke klein besluite oor wat om te dra of hoe ek my hare moet dra. Of watter leefstyl ek handhaaf en watter keuses ek maak in die lewe. Dit bly op die ou einde my lewe, my keuses, of ek daardie stywe jean moet dra, of daardie veelbesproke boek moet koop, of ‘n hele slab sjokolade by myself moet eet, dit bly my keuse. Dit bly my standaarde en ek verwag nie dat iemand anders dit ook moet leef nie. Ek kan nie mense tevrede of gelukkig maak omdat ek nie volgens hul standaarde leef nie. En ek het daardie reg om nie my standaarde aan enige iemand te verduidelik nie.

Elkeen het hul eie standaarde waarvolgens hulle leef. Elke mens in hierdie land is uniek. Elke mens maak hul eie reëls en leef daarvolgens. Maar ongelukkig skep mense ook verwagtinge van ander, sonder om te besef dat ons almal uniek is. Niemand verdien om in boksies ingedeel word nie, want elkeen het daardie vrye reg om te leef soos sy of hy wil leef.

Ek leef volgens my eie standaarde en is heeltemal gelukkig daarmee. Soos elke mens gelukkig is met sy of haar standaarde, of reëls, as mens dit so kan noem. Die hartseer feit van ons samelewing is dat ons as mense teleurgestel word omdat ander nie volgens hul verwagtinge of standaarde leef nie. En dat mense figuurlik gesproke in boksies ingedeel word.

Die Klein Dinge In Die Lewe

Ek was deur ‘n baie besige tyd verlede maand. Al waarna ek hierdie week gesmag het was net ‘n rustige tyd saam met my familie. Ek wou net my batterye herlaai en dinge doen wat ek altyd gedoen het. Dit was ook ‘n baie lang maand waar ek dinge in my lewe uitgesorteer. Ek was by tye heeltemal uitgeput en vir byna vir die hele week met kopsere gesit weens grootskaalse stres.

Dit was nie ‘n maklike tyd vir my nie. Ek het vir die hele week uitgesien om net vir een Saterdag behoorlik ‘n me-time te hê. Dit klink maar boring en ook selfsugtig, maar dit is waarvoor ek geleef het gedurende die hele week. Somtyds, is dit die klein dingetjies in die lewe wat rêrig saakmaak.

Ek leef vir die Saterdagoggend snooze sessie waar ek vroeg wakker word, skielik besef dit is Saterdag, net om verder te slaap. Ek leef vir ‘n lekker beker koffie so vroeg op ‘n Saterdagoggend. Ek hou daarvan om my foon af te los, jy leesboek te vat en buitekant te sit saam met my honde en ‘n Nicholas Evans boek te lees. ‘n Bonus is altyd nog ‘n beker koffie saam met dit. Weg van die realiteite van die lewe en weg van die chaos wat sosiale media somtyds bring.

Ek lewe vir hierdie klein dingetjies in die lewe want ek kry altyd nie die kans om net rustig te wees en in ‘n plek van rustigheid te wees en te bestaan nie. Die lewe is altyd besig. Altyd mal wanneer dit by werk en ander dinge kom. Almal smag na rustigheid. Almal smag na die klein dingetjies in die lewe. Om nie te dink aan werk of aan die stres wat daarmee gepaardgaan nie.

Vandag was dit ‘n wonderlike dag gewees. Om net weer myself te wees en dinge te doen wat ek altyd gedoen het.

Op En Af

Die maand van Februarie sal ek nie juis ‘n goue maand van liefde noem nie. Vir my was dit meer soos ‘n op en af maand. ‘n Maand van groot laagtepunte en groot hoogtepunte. Om dit op te som, was dit nie ‘n pretloop in die park nie.

Dit het baie sleg begin toe ek my vriend aan kanker verloor het. Die verlies van Shaun het ‘n baie groot leemte gelos. Vir baie mense wie se lewens hy geraak of verander het. Hy was maar net 51 jaar oud toe hy die stryd teen kanker verloor het. Shaun sal vir altyd gemis word.

Die lewe het vir my baie taai klappe uitgedeel tydens Februarie. Dit was alles behalwe die maand van liefde met die nuus van ‘n operasie, beurtkrag en die feit dat ek moes onwaarhede van myself op die internet moes lees, die laaste ding wat ek basies nodig gehad het na die moeilike tye onlangs.

Februarie het ook sy liggie helder laat skyn met my verjaarsdag en die tyd wat ek met my familie kon deurbring. Als dit het my laat besef dat die lewe baie kort is vir negatiwiteit. Dat ek eerder na positiewe dinge moet kyk as als wat negatief is.

Februarie was hard en moeilik. Dit het my die hele dag laat huil op die dag van my vriend se dood en my op my tande laat kners met beurtkrag. Dit het my laat glimlag met my verjaarsdag en dat ek geseend was om tyd saam met my familie te spandeer, en my laat besef om vriendskappe te koester en ekstra lief te wees vir my familie.

Ek moes ook vir my eie welstand negatiewe mense blok en uitsny, veral op sosiale media platforms. Want dit is nie die moeite werd om my gesondheid laaste te stel vir negatiewe en bitter mense nie. Ek moes ook leer dat dit soms net okay moet wees om my eie gesondheid eerste te stel. Want dit bo als wat gebeur het hierdie maand, kom eerste.

Harde tye is daar om jou te toets. Dit sê ek altyd. Al wat ek moes doen is om vas te byt en hoop te hê dat dinge weer okay gaan wees. Al is daar nou berge wat ek moet klim, glo ek dat ek weer okay sal wees.

Ware woorde